Dit verg ‘n besondere mooi meisie om die manne van Romanz sprakeloos te laat. Maar mooi is die Walliese sopraan Katherine Jenkins beslis.

Die kêrels het die naweek die verhoog met Katherine gedeel toe sy in Johannesburg by die Sandton Convention Centre voor vol sale opgetree het.

En ja, sê Romanz se André Venter op ons vraag, “sy is regtig beeldskoon”.

“Die eerste ontmoeting was nogal snaaks, want niemand kon regtig iets sê nie. Haar skoonheid is oorweldigend, en sodra sy begin sing, kan ‘n mens nie glo dat sy regtig so goed is nie.”

Hy vertel Katherine was baie vriendelik en sy is agter die skerms net so nederig en gaaf soos sy op die verhoog lyk. En toe hulle hul asem terugkry, het die manne glo ‘n hond uit ‘n bos met haar gesels.

“Sy was beïndruk met ons en het die mooiste komplimente uitgedeel.Wie weet, miskien kry ons een van die dae ‘n geleentheid om saam haar te sing anderkant die waters,” hoop hy.

Dit sal nie onverdiend wees nie, want die mense wat die vertoning gesien het, sê Romanz het wêreldklas gelyk langs die wêreldbekende ster.