Die tweede keer dat Adrian en Brooke Franklin, van Noord-Carolina, Amerika, kansel toe gestap het, was baie anders as die eerste keer.

Sewentien jaar gelede was die twee die blommemeisie en ringdraer op die troue van hul ouers se vriende. Hulle was toe vyf jaar oud.

Brooke erken sy was nog altyd verlief op Adrian, maar hy kon haar eers nie verduur nie.

“Ek was nie mal oor Brooke nie,” het hy aan Today.com gesê.

“Ek was skaam en sy was spontaan en luidrugtig. Ek was nie beïndruk toe hulle vir my sê ek moet saam met haar kansel toe stap nie.”

Brooke vertel ook Adrian kon haar nie verdra toe hulle jonger was nie.

“Hy het gesê ek werk op sy senuwees,” sê sy. “Ek het by die skool en kerk met hom probeer speel en hy wou nie veel met my te doen hê nie.”

Gelukkig het dit verander namate hulle ouer geword het. Op hoërskool het hulle begin uitgaan en 17 jaar later is die twee toe in dieselfde kerk getroud. Die egpaar is verbaas oor die aandag wat hul liefdesverhaal ontlok. “Ons is geskok oor al die aandag wat dit kry,” het Adrian aan ABC News gesê. “My ma het ’n foto op Facebook gedeel en ons is bly dis goeie nuus wat versprei en nie slegte nuus nie.”

Bronne: abcnews.go.com, today.com