En Woensdagaand kon hulle toe nie meer die gevoelens inhou nie en dit gebeur eindelik: Vince en Aggie deel ’n passievolle soen!

Dis ’n prentjie wat romantiese siele aan die gons het. Flikker die liefdesvlam dalk tussen Jacques Blignaut en Mimi Mahlasela se karakters in 7de Laan?

Vir hul aanhangers sal dit mos goeie nuus wees as die seer van die verlede nie dié twee se geloof in die mag van liefde uitgedoof het nie. 

Vince se vrou, Bonita (gespeel deur Hildegardt Whites) het vroeër vanjaar die pad gevat. Sy het swanger geraak, maar was onseker wie die pa is: Tony (Marlo Minnaar), Xander (Theodore Jantjies) of Vince . . .

Om nie onmin tussen die twee broers, Vince en Xander, te saai nie, het sy en Tony gekonkel om Vince te laat uitvind dat iets tussen hulle gebeur het. Vince het haar toe uit die huis gejaag nog voor hy geweet het sy is swanger. En Bonita het dit as die kans gesien om van alles te vlug . . .

Al is die borrelende Aggie ’n regte romantiese siel, was sy nog glad nie gelukkig in die liefde nie. Sy was eers in ’n gewelddadige verhouding, en toe sy hierna weer liefde vind, was dit met ’n man wat poligamis is. Eers later sou sy uitvind dat hy reeds met twee ander vroue getroud is.

“Sy het nog nooit iemand in haar lewe gehad waar die gevoelens op ’n gelyke vlak was nie,” sê Rosa-Mari Erasmus, 7de Laan se publisiteitsbeampte.

“Vince is aangenaam en saggeaard en hy stap die ekstra myl vir haar. Hulle ken mekaar al jare en daar is reeds ’n sterk fondament gelê. Maar dan is daar natuurlik vrae: Gaan Bonita terugkom? Wat gaan die mense in die Laan sê? En sal hulle vir die struikelblokke kans sien?”

Mimi sê sy is onseker of haar karakter tans reg is vir ’n verhouding met Vince. “Nadat sy uitgevind het dat haar vorige kêrel reeds getroud was, het sy die deur gesluit vir ander verhoudings. Sy is ook versigtig, want Vince is self nog getroud en sy is heeltemal bewus daarvan. Maar wat ’n mens nie kan ontken nie, is dat daar ’n vonk tussen hulle is!”

Mimi sê Aggie gaan in die volgende paar dae baie vrae vra oor of die vonk tussen hulle in iets diepers kan ontwikkel. Sy ken hom dan al so lank en hy is in dié stadium nog wetlik getroud. “Daar is baie uitdagings.”

Maar Aggie verdien ’n goeie man, meen Mimi. “As ’n mens na die geskiedenis van haar vorige kêrels kyk, verdien sy ’n kêrel wat goed is vir haar en haar reg behandel. As ek kykers op straat raakloop, vra hulle altyd vir my wanneer Aggie dan iemand kry wat aangenaam is.

“En ’n mens is so geneig om ver te soek vir liefde. Soms hoef ’n mens nie, want so dikwels is die persoon reg onder jou neus.” 

Kyk Twitter se reaksie: