Om ‘n blokraai op papier in te vul is héérlik, maar danksy Huisgenoot se splinternuwe blokraai-app kan jy nou ook jou gunstelingtydverdryf beoefen terwyl jy in die inkopiery staan en wag – op jou slimfoon. Ons beantwoord jou grootste vrae.

[post-slider]

Laai nou af

itunes-logo

Untitled-4

Alles wat jy moet weet:

  • Jy kan die app GRATIS aflaai.
  • Dit is beskikbaar in die iTunes-appwinkel of die Google Play-winkel.
  • Dit is geskik vir Android- en iOS-fone (nie vir Blackberry nie en tans ook nog nie vir tablette nie).

Waar kry ek die app?

Gaan na die iTunes App-winkel as jy ’n iPhone het, of na die Google Play-winkel as jy ’n Android-foon het. Soek na Huisgenoot Blokraaie (kyk uit vir die ikoon), en laai die app af.

Blokraaie-HG

Watter blokraaie kan ek alles op die app invul?

Daar is twee soorte blokraaibondels in die app – pyltjieraaisels en blitsraaisels. Die blokraaie is almal deur Huisgenoot opgestel in groottes wat die beste op ’n slimfoon werk.

Wat kos dit?

Die app is gratis, en word weekliks met een gratis blokraai bygewerk. As jy dit geniet en lus is vir n.g raaie, kan jy blokraaibondels koop teen sowat R10 (na gelang van die wisselkoers) vir 15 raaisels.

Waaruit bestaan ’n blokraaibondel?

Na gelang van hoe gesout (of dapper!) jy is, kan jy maklike, medium of moeilike bondels

aflaai. Die 15 raaisels in die bondel begin klein en word al groter – maar jy hoef dit nie in volgorde aan te pak nie. Jy besluit self of jy tyd het vir ’n groot of klein raaisel. Jy kan ook ’n blokraai bêre en later terugkeer om dit te voltooi. As die blokraai ingevul is, kan jy dit

instuur en jou puntestand op die voorloperbord verbeter.

Hoeveel tyd het ek om die bondels te voltooi?

As jy ’n bondel gekoop het, is dit jou eiendom. Die bondels bly op jou foon en jy kan dit meer as een keer invul as jy lus het. Jy kan egter net een keer die telling by jou puntestand laat byvoeg. Die weeklikse gratis raaisel is vir slegs een week beskikbaar; daarna word dit deur ’n nuwe blokraai vervang.

Hoe werk die app se kulknoppies?

Een van die lekkerste dinge van die app is dat jy hulp kan kry as jy vashaak – wat dit nuttig maak vir blokraaigroentjies. Onder op jou skerm kan jy tik op “Antwoord”. Dan kan jy kies of die app ’n blokkie of ’n woord aan jou moet verklap. Maar wees gewaarsku: Hoe meer jy kul, hoe laer sal jou punt wees. En ’n goeie telling kan jou help om op te skuif op die voorloperbord!

Hoe werk die puntetelling?

Kom ons begin by die voorloperbord. Jou punt gee vir jou ’n stand op die wêreldranglys, sowel as op ’n lys vir jou vriende. As jy die blokraai klaar ingevul het, klik op “klaar” regs bo sodat die app vir jou ’n punt kan uitwerk. Die punt word bereken volgens ’n algoritme wat in ag neem hoeveel tyd jy gebruik het, en hoeveel keer jy gekul het. Die punt word telkens bygetel by jou vorige punt. Hoe meer blokraaie jy dus invul, hoe hoër sal jou punt wees. Spog gerus met jou blokraaipunt of jou plek op die voorloperbord deur op die knoppie vir die sosiale media te druk – dan stuur die app outomaties ’n boodskap wat op jou Facebook-blad of Twitter-profiel verskyn.

Kan ek iets wen?

Ons sal van tyd tot tyd kompetisies in die app aanbied, maar jy kan nie iets wen deur die gewone bondels in te vul nie. Dit is sommer vir die lekker! ’n Kompetisieraaisel sal duidelik gemerk wees, en dan sal die kulknoppies afgeskakel wees – jy kan darem nie kul én wen nie!

Lekker speel!