Die datum wat in rooi op al die koninklike bewonderaars se kalenders omkring is, is mos 13 Julie, met ouma Middleton wat ook glo te vertelle gehad het dat Baba C eers einde Julie sy of haar opwagting sal maak.

En so met ons almal op hete kole oor wanneer die groot dag dan nou eindelik gaan aanbreek, verras Catherine ons mos almal die afgelope naweek deur nie die spogtroue van die jaar by te woon nie – omdat sy vrees dat sy dalkies vroeg kan kraam.

Maar ’n ywerige fotograaf kiek haar toe waar sy Saterdag in antiekware-winkels in Hungerford rondsnuffel, ’n dorpie naby aan haar ouers se tuiste.

Dalk ook maar goed sy was nie by William en Harry se boesemvriend se troue nie, want omtrent al William se ekse was ook trougaste. Chelsy Davy, prins Harry se groot liefde en eks, het ampertjies nes Pippa destyds die kollig op die troue gesteel.

Catherine se vrese dat sy vroeër in kraam kan gaan, kan natuurlik ook toegeskryf word aan haar manier om die fanfare om die baba se geboorte ’n bietjie te versluier, nes prinses Diana destyds met William se geboorte gedoen het.

Diana het mos destyds vertel dat haar eersteling op 1 Julie gebore sou word, maar toe word William op 21 Junie gebore! Nou meen kenners Catherine en William doen dalk dieselfde.

In die algemeen word 13 Julie as die teikendatum gesien, maar met babas – en veral eerstelinge – weet ’n mens nooit. Boonop wil Catherine glo natuurlik kraam en is sy geensins “too posh to push”nie!

So ons sal maar almal moet wag . . . Die geboorte word soos tradisie bepaal aangekondig deur ’n brief wat deur die twee verloskundiges onderteken sal word. Dit word dan van die hospitaal na Buckingham-paleis toe geneem, netjies op ’n bord monteer en by die hekke van die paleis geplaas. Eers daarna sal die paleis ook op sosiale media die aankondiging doen. Natuurlik sal die gebruiklike kanonskote ook dan afgevuur word om die geboorte van ’n troonopvolger aan te kondig.

Ek vermoed die koningin sal ook so in haar stelligheid ’n sug van verligting slaag dat haar dinastie met nog ’n generasie verleng is.

- Arlene Prinsloo

Arlene Prinsloo is die digitale nasionale inhoudskoördineerder van Digitale Nuus, Media24 Nuus.