Mooi mense

Ek en my vriendin Riani is al beste maats van laerskool af.

“Waaroor dink jy moet ek skryf?” vra ek haar dié week. Sy was ook al een keer in Brasilië, toe ons almal nog op skool was. Ek onthou ons was lekker jaloers dat haar ouers haar uit die skool gehaal het vir die toer terwyl ons moes swoeg deur die gr. 11-eksamen.

“Skryf oor die mense, oor hoekom hulle so baie selfvertroue het. Ek wil ook so wees. Vind uit wat hulle geheim is.”

Dis waar wat Riani sê. Die mense hier is móói. Donker hare en oë, lang lyf, bosse hare, spiere, bruin vel.

Hulle is ook glad nie skaam nie. Rokkies is kort, skoene hoog, halse laag, broeke styf.

My man, Thomas, het eendag vir my gesê: “Ek het nooit geweet ’n mens kan sien watter soort onderklere iemand aan het deur jeans nie, maar hierdie mense se jeans is so styf . . .”

Dis toe ons die eerste keer in Rio de Janeiro kom dat ek besef dis nie net hulle voorkoms wat anders is nie. Op Ipanema-strand dra almal tangas of deurtrekkers. “Fio dental” noem hulle die deurtrekker bikini’s – tandeflos. ’n Vol swembroek is heeltemal vreemd.

Dis ook nie net mooi mense wat die oop swembroekies dra nie. Dis vettes, maeres, langes, kortes, donker, lig, selluliet, sonder selluliet, groot boude, klein boude.

Maar die snaakse ding is, almal lyk vir my mooi. Die vettes en dié met die selluliet ook. Hulle glimlag so breed en hulle lyk so gelukkig om op die strand te wees. Dis selde dat ek iemand ongemaklik aan hul klere sien trek of oogkontak uit skaamte vermy en niemand staar iemand aan nie.

Ek het my eerste kans gevat en vir my ook ’n tanga bikini gekry. Daar is strandverkopers, jy sien, wat met sulke lang besemstokke oor die skouers loop waaroor hulle honderde bikini’s hang; elke kleur en styl waaraan jy kan dink, behalwe ’n toe-styl.

Daar lê ek toe in my nuwe wit tanga en ek verwag enige oomblik gaan iemand ’n gesig trek of my skeef aankyk, maar nee. Niemand kyk eers nie; daar is so baie ander lywe op die strand, niemand gee om nie.

“Ek het dit!” sê Thomas eendag. “Dis nie dat hierdie meisies soveel mooier is nie.”

“Ag nee Thomas, regtig, nou jok jy,” sê ek vir hom.

“Nee, ek is ernstig. Kyk hierdie vrou,” en hy wys na iemand wat verby ons stap. Broek styf, skoene hoog, the works. “As jy haar in Suid-Afrika gesien het, sou jy gedink het sy is mooi? Ignoreer haar klere.”

Ek kyk.

Ek begin so effens verstaan wat hy sê. Haar bobene is nie besonder maer nie. Inteendeel, dis dalk bietjie aan die groot kant. Sy het ’n effense magie, maar sy lyk pragtig.

“Wat is dit dan?” vra ek hom. Ek het nou skielik begin dink aan daai mense op Ipanema-strand; dié met die selluliet en die groter-as-gewoonlik boude.

“Sy gló sy is mooi,” sê hy eenvoudig.

Nou ja, ek het nou al vier tanga bikini’s en ek dra hulle op elke strand hier.

Dis fantasties.

(Dalena het voorheen by Huisgenoot gewerk. Haar man, Thomas, se werk het hom in 2012 gevra om ’n ruk in Brasilië te gaan werk.)

photo 1 photo 2 photo photo 1a