Dit het begin as ’n paar protesoptogte teen die verhoging van bus- en treinkaartjiepryse. Op 2 Junie het die Brasiliaanse regering die pryse van 3 Real (R13,81) verhoog na 3,20 Real (R14,73). Die regering het beweer dit is onder die huidige inflasiekoers, maar die Brasiliane wou niks weet nie.

Eers was ons salig onbewus van die optogte. Ons het gehoor daar was voorvalle in Paulistastraat, die groot besigheidstraat van São Paulo, maar die dienslewering is so doeltreffend dat selfs al het die protesteerders die treinstasie en banke se ruite gebreek, was dit reeds reggemaak teen die tyd dat ons die volgende oggend wou treinry.

Dit was totdat ek Woensdag ’n boodskap van Thomas (my man) kry: “Die kantoor sluit vroeg vandag; ’n optog word beplan vir die ou deel van die stad (waar Thomas werk).”

Daardie middag was ek op ’n toer deur Paulistastraat en die toergids het, hoewel hy vreeslik opgewonde was om ons van sy stad te vertel, herhaaldelik vir my en die ander toeriste gesê: Maak seker julle is nie vanaand in Paulistastraat nie.

Tog was ons nuuskierig. So staan ek, Thomas en ons vriend Johan, nog ’n Suid-Afrikaner wat op die oomblik hier werk, op die hoek van Paulista en Trianonpark en kyk hoe die protesteerders ál nader kom. Die polisie, in helmets en koeëlvaste baadjies, staan ook ál nader. Om ons is daar ’n snaakse atmosfeer: Die ligte in die straat is nog aan, maar die mense om ons, ook dié wat sit en bier drink by ’n kroeg net agter ons, is doodstil. Skielik gaan daar skote af, ook ’n paar ontploffings. “Booeeeeeee!” skree die jong mense agter ons vir die polisie.

“Kom,” sê Thomas en gryp my aan die hand.

“Maar ek wil sien wat gebeur!” sê ek.

“Nee. Nie vanaand nie.” Ek stap al grommend agter hom aan.

Die hele aand lank hoor ons helikopters vanuit ons woonstel, wat net ’n paar blokke van Paulistastraat is. Die volgende oggend is die hooffoto van die Folha de São Paulo-koerant ’n polisieman wat ’n paartjie op die grond neergooi – voor die einste kroeg waar ons die vorige aand gestaan het. Net onder dit, ’n foto van ’n jong joernalis met ’n bebloede oog: ’n Rubberkoeël het haar in die gesig getref.

Ons Brasiliaanse vriende op Facebook is woedend. Hulle vloek die polisie openlik in hul statusse: “Ons het die reg om optogte te hou,” sê hulle, soos een man.

Die naweek vra ek een van ons Brasiliaanse vriendinne wat sy dink van die optogte. Sy antwoord versigtig: “In werklikheid dink ek die optogte gaan oor meer as dit. Ons land het baie korrupsie. Ons voel nie veilig op straat nie. Ons gesondheidstelsel is nie goed nie, opvoeding ook nie. En om eerlik te wees, hoop ek hulle gaan volgende week terug strate toe.”

Eers Maandagaand het ek dit verstaan. Ek is op Facebook toe ek die foto’s van my Brasiliaanse vriende sien – joernaliste, my vorige nuusredakteur, mense wat saam met Thomas werk: Mense op straat met Brasiliaanse vlae oor hul skouers dra plakkate wat sê: “Vem pra rua!” (Kom strate toe.). Ek hoor alweer helikopters. Ek stap tot aan die einde van die straat en my mond hang oop: duisende, duisende mense wat almal Paulista toe stroom. Jong mense, ou mense. Sommiges het selfs hul honde saam gebring. Op TV sien ek dis nie net hier nie, ook in Rio de Janeiro. In Recife, in Santos. In Brasilia, die hoofstad van Brasilië, het mense op die regeringsgeboue begin klim. Die land staan soos een man op straat.

Die laaste plakkaat wat ek sien voor ek Thomas aan die hand gryp en self inval, lui: “Ek verander eerder my land as wat ek van land verander.” Ek is ’n Suid-Afrikaner, maar ek stem volkome saam.

- Dalena Theron

Dalena het voorheen by Huisgenoot gewerk. In 2012 is haar man, Thomas, na Brasilië verplaas.

photo 3

photo 1

photo 2