Dit is darem nog nie die laaste sien van die lieflike hertogin van Cambridge nie. Die afgelope naweek het ’n blosende Catherine nie net die Trooping the Colour-seremonie saam met die res van die koninklike familie bygewoon nie, sy het die hele seremonie boonop deurgesien in hemelhoë hakskoene.

Op die balkon van Buckingham-paleis was almal se oë net op die slanke donkerkop-vrou met die beskeie ronde magie gerig, maar soos altyd het sy en prins William net oë vir mekaar gehad.

Dit is miskien dié liefdevolle blikke wat my moed gee vir hul huwelik, ongeag die visbak-bestaan van die moderne koninklikes en die vrees wat my vervul dat nie sy of William hul eersteling genoeg sal kan beskerm teen die lense van die paparazzi en nog erger, die gewone mense op straat met hul slimfone nie.

Soos met hul troue is daar legio stories oor waar die bevalling gaan plaasvind, wat die eersteling se naam gaan wees en waar Catherine die eerste paar weke ná die groot dag sal deurbring.

Hoewel daar algemeen verwag is dat Catherine die eerste ses weke ná die bevalling by haar ouers in Berkshire sal nesskop, het die koningin die afgelope naweek “versoek” dat die Cambridges in Augustus Balmoral toe kom.

Balmoral is die koningin se uitspanplek in die Skotse Hooglande. Dit is privaat en die een plek waar William en Catherine vir seker sal wees geen lang lens koekeloer hul intiemste oomblikke nie.

Hoewel William se ma, Diana, dit verpes het om op Balmoral uit te span, is daar oral op die landgoed losstaande kothuise waar die Cambridges as ’n gesin sal kan uitspan.

Die koningin het al per geleentheid een van die kothuise aan William gegee sodat hy en Catherine in privaatheid Balmoral se magiese skoonheid kon geniet.

Op besoek aan Balmoral kan ’n mens onbeperk op die gronde rondloop, maar die kasteel self is, benewens die balsaal, nie vir ons gewone sterflinge se nuuskierige oë beskikbaar nie.

Daar is uitstallings van die voertuie wat die koningin gebruik wanneer sy op Balmoral uitspan, ander koninklike besienswaardighede en die begraafplaas van die koninklike troeteldiere, maar grotendeels kry besoekers ’n proesel van die plek waar die koningin met ’n geruste hart met ’n sy-kopdoek, Wellington-stewels en ’n Skotse rompie kan rondloop.

Balmoral is natuurlik ook die plek waar William en Harry gekoester is in die dae ná die tragiese dood van hul ma.

Met die gelyknamige rolprent oor Diana wat binnekort uitgereik word, dink ek nogal Balmoral is ’n veilige hawe vir die Cambridges, ’n plek om weg te kom van die buitewêreld.

Hier sal die tweetjies lang ente kan gaan stap met die nuwe Cambridge knus teen een van hulle vasgedraai in ’n baba-drasak en dit sal aan Catherine ’n welkome kans weg van die kameras bied.

Soos met Diana se swangerskap is Catherine se modekeuses deur haar swangerskap fyn dopgehou. Daardie fyn voetjies van die hertogin het nie ’n sentimeter verkeerd neergesit nie. Al haar modekeuses was onberispelik klassiek, met ’n paar nommers wat net verstel is vir die swangerskap. En wees verseker: Met ’n volgende swangerskap sal haar swangerskap-nommers weer diens doen.

Hoewel daar verwag is dat Catherine Maandag die Orde van die Kousband-seremonie by Windsor sou bywoon, moes ons koninklike agies tevrede wees met ’n stralende koningin en Camilla, die hertogin van Cornwall. Ook prins Philip was natuurlik afwesig. Hy het eers Sondag die hospitaal verlaat en sal vir die volgende twee weke nog herstel ná ’n verkennende buikoperasie.

Maar nou is my aandag gevestig op die komende naweek se troue van die jaar tussen lady Melissa Percy en Thomas van Straubenzee, een van William en Harry se jare lange vriende. Die Cambridges gaan die troue bywoon en natuurlik sal Catherine nie met ’n nuwe nommertjie spog nie sodat sy nie die aandag van die bruid aftrek nie. (Melissa se broer is die ouer Percy-broer op wie se skouer sus Pippa telkens gaan huil ná ’n mislukte liefdesverhouding.)

Maar terug by Catherine. Dié troue sal haar laaste nie-amptelike verskyning wees voor die geboorte van Baba C.

Dié troue word algemeen beskou as die bloubloed-troue van die jaar, met Harry aan diens as ’n strooijonker en sy groot liefde, Chelsy Davy, een van die strooimeisies.

As koninklike bewonderaar hoop ek tog so nog ’n liefdesverhaal in William en Catherine se trant ontvou op dié troue. Dalk staan Harry dan nie volgende jaar alleen op die balkon by Buckingham-paleis nie.

- Arlene Prinsloo

Arlene Prinsloo is die digitale nasionale inhoudskoördineerder van Digitale Nuus, Media24 Nuus.