FOTO: ELITE PHOTO AGENCY.COM

Ek wil regtig van haar hou, maar ek kan maar net nie verby daardie nors uitdrukking op haar pragtige gesig kom nie. Toe ek lees Maria Sharapova (26) het gesê sy het nie baie vriende in die tenniswêreld nie, het ek nie meer so sleg gevoel nie.

Dit lyk ook nie of sy ’n duit omgee vir haar aanhangers nie. Met haar aankoms vandeesmaand by die Wimbledon-oefenbane het die langbeenskoonheid reguit verby honderde jillende aanhangers gestap wat haar handtekening wou vra en soveel moontlik mense aangegluur. Baie beminlik, Maria.

Jy wil ook doodseker maak jy loop nie ’n wedstryd tussen haar en Serena Williams mis nie – blink geverfde naels gaan beslis gewys word! Die twee is glo van die baan af op die oorlogspad sedert Maria begin uitgaan het met die aantreklike Bulgaarse tennisspeler Grigor Dimitrov (22), Serena se eks. Sedertdien kry die twee vroue mekaar gereeld onder skoot. Hier is ’n voorbeeld: Sonder om Maria se naam te noem, maar met ’n duidelike sinspeling oor wie sy praat, het Serena (31) vir ’n onderhoudvoerder vertel van ’n topvyfspeler wat nou verlief is. Sy het gesê: “Sy begin elke onderhoud met ‘ek is so gelukkig, ek is so gelukkig’. Dis so vervelig. Sy gaan steeds nie na die koel partytjies genooi word nie.”

Eina. Maria het nie stilgebly nie en teruggekap met: “As sy oor iets persoonliks wil praat, moet sy dalk praat oor haar verhouding en haar getroude kêrel wat kinders het en nou skei (met verwysing na die gerugte dat Serena met haar afrigter, Patrick Mouratoglou, uitgaan).” Die twee het daarna ’n wrokkige wapenstilstand aangegaan, maar jy kan maar weet hulle jeuk om mekaar op die tennisbaan aan te vat.

Deur Nici de Wet