As 13 Julie die dag is waarop Baba Cambridge sy of haar opwagting gaan maak, is vandeesweek heel moontlik die laaste sien van Catherine vir ’n hele paar maande.

Sy het nie die afgelope naweek, soos verwag, gesig gewys by een van daardie dubbelvan-adelstand-plattelandse troues nie, maar is darem verlede week gesien by die erediens ter ere van koningin Elizabeth II se 60ste jaar op die troon.

En verlede week het sy met ’n heldergeel rokjas langer as twee ure in haar hemelhoë L.K. Bennetts diens gedoen tydens een van die koningin se teepartytjies in die Buckingham-paleis se tuine.

Dat sy bitter vinnig geleer het dat koninklike duty altyd eerste kom, is prysenswaardig. Sy en William wou die nuus oor hul eersteling ’n bietjie langer geheim hou, maar toe kortwiek Catherine se aaklige oggendnaarheid daardie planne.

Nou bespiegel almal ook oor die presiese bevallingsdatum, presies waar die volgende aanspraakmaker op die Britse troon gebore gaan word, en wel, wat die klein Cambridge se naam gaan wees...

Catherine is besig met die allerlaaste aankopies wat ’n nuwe mamma vir haar babakamer doen en is juis verlede week in Chelsea gesien waar sy by ’n eksklusiewe boetiek inkopies gedoen het.

En sus Pippa hou binnekort vir haar ’n intieme ooievaarstee, waar vriende in die binneste binnekring geskenke sal gee en natuurlik elkeen self ’n pragtige geskenkpakkie sal kry (glo met Jo Malone se geurige kerse in...).

Vandeesweek sal Catherine van haar laaste koninklike pligte verrig voor sy met kraamverlof gaan. Donderdag gaan sy in Southampton ’n boot – die Royal Princess – met ’n bottel sjampanje amptelik haar naam gee en dan is daar Saterdag die militêre parade Trooping the Colour. As sy goed genoeg voel, sal ons haar dalkies volgende Maandag in Windsor te sien kry by die jaarlikse Orde van die Kousband-seremonie.

Daarna sal ons maar saam met Catherine die dae aftel... 13 Julie is immers ook my verjaardag. Dalk is dit ’n dubbele feesviering!

- Deur Arlene Prinsloo

Arlene Prinsloo is ’n vurige koninklike bewonderaar en nasionale inhoudskoördineerder by Digitale Nuus: Media24 Koerante.