’n Polisiebeampte van die Rosestad het sy vrou Dinsdagaand ná ’n argument doodgeskiet en toe die vuurwapen op homself gedraai.

Die polisie het die voorval, wat kort na sewe uur plaasgevind het, bevestig.

Volgens polisiewoordvoerder Ikobeng Hlubi was die 45-jarige adjudant-offisier by die Bram Fisher-lughawe gestasioneer. Hy het glo eers sy 44-jarige vrou gedreig voor hy haar geskiet het.

"Sy het uit die huis gehardloop en hy is agterna. Hy het haar toe geskiet en sy het op die straathoek geval," het Ikobeng gesê.

Die beampte het toe die wapen op homself gedraai. Sy vrou het twee skietwonde aan haar kop gehad.

’n Saak van moord sowel as ’n geregtelike doodsondersoek-dossier is geregistreer.

Bron: News24