“Ek gaan laai my blikkies meestal by restaurante op, maar die mense in die stad ken my werk en sal my sommer op straat voorkeer met ’n sak vol blikkies,” vertel hy.

Hy begin met ’n foto wat hy op die rekenaar “pixelate”. Vir elke beeldelement (pixel) gee hy ’n kode by ’n bypassende kleur. Hy teken dit dan op ’n groot stuk houtplank en begin genoeg blokkies uitsny om dit met gom vas te plak soos ’n legkaart.

Coke-blikkies sal byvoorbeeld die rooi in die werk verskaf, wit kom van Coke Zero-blikkies, blou van die boonste deel van Sprite-blikkies en groen van die onderste deel; geel kry hy van Lipton Tea-blikkies.

Sy heel eerste blikkie-kunswerk was in 2013, van oudpres. Nelson Mandela, toe Izak van Polokwane na die Rosestad getrek het. Dié blikkie-mosaïek het drie maande geduur om te voltooi.

“Ek het besluit hierdie medium gekies omdat daar soveel goeie kunstenaars in Bloem is. Ek moes iets anders doen om my werk te laat uitstaan,” verduidelik Izak. Hy het ook nie destyds geld gehad vir verf om op die gewone manier te skilder nie. . . Sedertdien het hy al 20 werke geskep.

Deesdae duur dit sowat ’n maand om ’n werk te voltooi.

Izak is verslaaf aan skilder sedert hy sy eerste stelletjie verf en kwaste op vierjarige ouderdom by ’n tannie gekry het. Hy het in Pretoria grootgeword. Ná sy pa se afsterwe moes hy sy gesin help kop bo water hou. Hy het ’n rukkie ná skool in Engeland en toe in Amerika gaan werk in van ’n kontaklensfabriek tot in die boubedryf.

Hy is op die oomblik besig om tussen kuns maak deur hom as boutekenaar te bekwaam.

Izak se handewerk met blikkies het al in tuisteskepping-glanstydskrifte gepryk. Hy het in 2014 met die onderneming Pixel Me Crazy begin, wat kliënte ook die kans gee om foto uit hul albums te verskaf sodat hy dit omtower in sulke blik-kunsskatte.

In Oktober, November en Desember reis hy met sy kuns na Engeland, Duitsland, Spanje en Italië. Hy is deel van ’n groep plaaslike kunstenaars wat volhoubaarheid voorstaan deur kreatief te wees met herwinning, soos die Johannesburger Mbongeni Buthelezi, wat “verf” met plastieksakke.

Izak is veral lief daarvoor om glimlaggende gesigte te skep “omdat dit mense herinner om vreugde uit die eenvoudige te put”.