Netwerk24 berig ’n ondersoek word nou van stapel gestuur ná die voorval Vrydagmiddag ingevolge die Wet op Dierebeskerming.

“Ons voel die dagmoeder en haar helpers was baie nalatig,” sê Juanita Tolken, Lehandri se ma. “Die hond loop elke dag tussen die kinders. Hy is nie in ’n hok of vasgemaak nie.”

Die dagmoeder, Petro Erasmus, stem egter nie saam nie. “Hilux (die hond) lê gewoonlik by sy kosbakke of onder die boom. Hy is nie tussen hulle nie,” hou sy vol.

Daar word berig dat Lehandri die hond in die dae voor die voorval gepla het deur glo aan die hond se ore en “privaat dele” te trek.

“Lehandri het dit vroeër die week gedoen. My een helper het haar toe van die hond weggevat en vir haar gesê die hond gaan haar ‘eina’ maak,” sê Petro.

Petro vertel hulle was besig om ander kinders te bad toe die voorval gebeur het. Een van die ouer kinders het die veiligheidshek oopgemaak en Lehandri het uitgeglip.

“Ek het die hond hoor tjank en toe ek uithardloop om Lehandri by hom weg te vat, het hy na haar gehap. En dis toe dat die ongeluk gebeur het,” vertel Petro.

Dis glo die eerste keer dat die hond iemand gebyt het.

Lehandri is nie ernstig beseer nie, maar haar ma meen dit kon soveel erger gewees het. “Die pediater sê as die hond net ’n klein bietjie harder gebyt het, kon sy haar oog verloor het,” sê Juanita.

Petro het dieselfde dag nog al die ouers van die voorval vertel en Lehandri se ma en pa talle kere om verskoning gevra.

Die polisie het egter ’n ondersoek na die voorval bevestig.

Bron: Netwerk24

Lees ook op Netwerk24: