’n Hele seisoen lank het jong entrepreneurs en opkomende sakemanne hul bes gedoen om die haaie in die werklikheidsprogram Shark Tank te oortuig hulle bou ’n besigheid wat sal uitskiet as hulle net ’n klein bietjie finansiële hulp van dié multimiljoenêrs kry.

Soms het die haaie gebyt, ander kere het hulle glad nie belanggestel nie en daar was selfs tye dat hulle geïrriteerd geraak het as van die deelnemers nie hul huiswerk behoorlik gedoen het nie.

Maar in die laaste episode van die seisoen wat verlede maand uitgesaai is kon kykers kon sien die vyf haaie het eintlik sagte harte. Die sogenaamde haaie is Vinny Lingham, Marnus Broodryk, Dawn Nathan-Jones, Romeo Kumalo en Gil Oved.

[caption id="attachment_151819" align="alignnone" width="600"]Marnus Broodryk saam met Daniël en Lizaan van der Spuy en hul twee kinders, Melt en Melan. (Foto: Verskaf) Marnus Broodryk saam met Daniël en Lizaan van der Spuy en hul twee kinders, Melt en Melan. (Foto: Verskaf)[/caption]

Toe Daniël van der Spuy van Bloemfontein en sy neef Adriaan van der Spuy hulle vertel van Lazarus, het elkeen hom opregte lof toegeswaai. Dié produk help mense die sakkie skoonmaak wat jy dra as jy ’n kolostomie gehad het (’n operasie waartydens ’n opening op jou lyf gemaak word vir die afskei van afvalstowwe).

Gil was so geraak deur Daniël se voorlegging dat hy die R80 000 wat Daniël nodig het om dit te patenteer as ’n geskenk aangebied het. Vinny het dieselfde aanbod gemaak. Dit was egter Romeo wat hom R200 000 vir 15 persent eienaarsbelang aangebied het.

“Dit was baie senutergend om voor hulle te staan,” vertel Daniël, ’n pa van twee. “Maar ek is so bly ek het dit gedoen. Dit was ’n wonderlike ervaring.”

As kind is sistiese fibrose by Daniël diagnoseer en in 2008 Crohn se siekte. ’n Paar jaar later moes hy ’n kolostomie ondergaan.

“Dit was ’n baie moeilike ding,” sê Daniel oor die lewensveranderde operasie. “Ek het gedink ek het dit aanvaar, maar toe ek daar wakker word, was ek vir almal kwaad.”

Hy was gelukkig dat sy vrou, Lizaan, hom van die begin af gesteun het.

Reeds in die hospitaal het hy die patent ontwerp nadat ’n verpleegster hom nie kon wys hoe om die sakkie skoon te maak nie. “Dit het vol en ongemaklik geword. Toe ek haar vra om my te help, was dit amper asof sy gril. Haar reaksie het my laat besluit om niemand weer te vra om my sakkie skoon te maak nie.”

Daniël sê gewoonlik word mense gewys om dit skoon te maak in ’n roomysbak wat jy weer was, maar hy net geweet daar moet ’n makliker manier wees.

Met sy agtergrond as loodgieter het hy ’n vlekvryestaalstruktuur gebou wat aan die watertoevoer van die toilet gekoppel word. Jy kan dit langs die toilet bêre en wanneer jy dit wil gebruik, skuif jy dit net oor die toilet en spoel die sakkie skoon.

Die uitvindsel sal jou ook help om minder sakkies te gebruik.

Daniël is vol lof vir die haaie en sê hulle is baie nederige mense wat hard werk en betrokke is by hul beleggings. “Elkeen van hulle is regtig ongelooflike mense.”

Hulle wil eers die Suid-Afrikaanse mark so goed moontlik binnedring, maar sê dit is moeilik omdat Suid-Afrikaners wat in dieselfde bootjie is nie maklik hieroor praat nie.

Daniël glo sy uitvindsel sal die lewensgehalte verbeter van mense wat ’n kolostomie ondergaan het. Hy hoop in die toekoms sal hy ander emosioneel kan bystaan.

“’n Mens se lewe is nie verby nie.”