’n Man van Bloemfontein wat aan twee suurstofmasjiene gekoppel was, is dood nadat Eskom twee keer per dag beurtkrag ingestel het, het Volksblad Saterdag berig.

William Engelbrecht (61) is dood binne 30 minute nadat die krag Donderdag ’n tweede keer by sy huis in Navalsig, Bloemfontein, afgeskakel is.

Volgens die berig het William aan ernstige asbestose gely en meen sy gesin hy het nie van die eerste kragonderbreking herstel nie toe hy tydens die tweede een dood is.

Sy suster Lina Herbst sê hy was permament aan twee suurstofmasjiene gekoppel, want een was nie sterk genoeg nie. Eskom het die krag Donderdag tussen 14:00 en 16:00 afgeskakel en weer van 18:00 tot 20:30.

Die gesin se opwekker is aangeskakel, maar dit was nie sterk genoeg om twee suurstofmasjiene aan die gang te hou nie.

“Dit kon my broer net kort rukkies aan die gang hou as die elektrisiteit nie lank af was nie,” het sy aan Beeld gesê.

“Dit was te veel vir my broer wat nie van die eerste kragonderbreking herstel het nie.”

- Sapa

Besoek loadshedding.news24.com om uit te vind wanneer jou woonbuurt deur beurtkrag geraak word.