“Dit lyk asof iemand die bloedvlekke wou wegvee,” het hy gesê. Maar behalwe dié vlekke is daar geen spoor van Pascal (49), sy vrou, Brigitte (moontlik 50), en hul twee kinders, Sébastien (21) en Charlotte (18), nie.

Trouens, iemand het baie moeite gedoen om enige spoor van die gesin uit te wis. Daar is geen tandeborsels, geen beddegoed op die beddens en ook geen aktiwiteit op enige van hul bankrekenings te bespeur nie.

Die polisie het wel ’n paar klam lakens op die wasgoedlyn gekry en nat klere in die wasmasjien. Van die bederfbare produkte in die yskas het reeds begin vrot. Daar was selfs nog skottelgoed in die opwasbak. “Dis asof hulle net opgestaan en die pad gevat het,” het Pierre gesê. Pascal en Brigitte se motors is wel by die huis gevind terwyl die polisie tot dusver nog nie Sebastien se motor, ’n Peugeot 307, kon opspoor nie.

Bronne bestempel Pascal as iemand wat met depressie sukkel terwyl ander Sébastien weer as “vreemd” beskou. Hy is in 2013 tot gemeenskapsdiens gevonnis nadat hy as minderjarige doodsdreigemente op sy blog geuiter het. In teenstelling hiermee beskryf sy klasmaats hom as ’n vriendelike en stil jong man wat altyd bereid is om te help. Vier jaar gelede sou Sébastien glo ’n koddige inskrywing aanlyn op ’n speletjiesgroep se boodskapbord gelaat het wat daarop neerkom dat hy sy weerkaatsing verag en sy lewe hom droewig maak.

Op Twitter het hy luidens berigte geskryf: “As iemand regtig moet weet wat in my kop aangaan, sal hulle dink ek is mal en beginselloos.” Brigitte se suster het glo die polisie in kennis gestel iets skort moontlik met die gesin nadat sy dae lank nie kontak met haar suster kon maak nie. Intussen het dit bekend geword dat die bloed wat dwarsdeur die verdiepinghuis gevind is, wel die gesin s’n is. Daar was ook bloed aan Sebastien en Brigitte se horlosies met duidelike tekens dat iemand dit probeer skoonvee het.

Die polisie ondersoek ’n saak van moord, ontvoering en onwettige aanhouding.

Maar die Troadec-gesin is nie die eerste gesin van Nantes wat op ’n rare wyse verdwyn nie.

Inwoners wonder nou of dit blote toeval is dat Sébastien in dieselfde skool was as een van die kinders wie se verdwyning die mense van Nantes se verbeelding ses jaar gelede aangegryp het.

Destyds het ses lede van die De Ligonnès-gesin ook skielik weggeraak. Vyf lyke is weldra onder die huis se terras gevind. Agnes (49), haar dogter, Anne (16), en drie seuns, Arthur (20), Thomas (18) en Benoit (13), is meermale met ’n .22-kaliber vuurwapen in die kop geskiet. Die vyf slagoffers is omstreeks 3 of 4 April 2011 vermoedelik in hul slaap doodgeskiet. Selfs die gesin se twee honde is tydens die voorval doodgeskiet. Maar Agnes se man, Xavier Dupont de Ligonnès (50), is vandag nog soek nadat hy op 15 April daardie jaar laas gesien is.

’n Internasionale lasbrief is vir sy inhegtenisneming uitgereik.

Die vermoede het destyds bestaan dat Xavier se enorme geldlas ’n motief vir die moorde kon wees.

Bronne: thesun.co.uk, en.rfi.fr, theguardian.com, france24.com, leparisien.fr