Le Roux Steyn (20) en sy suster Marcelle het saam met twee ander mans – Christiaan Kruger en Fabian Luff – in die beskuldigebank gestaan. Almal word vermoedelik met die moorde verbind.

Die vier het kortliks voor landdros Delize Smit verskyn.

Delize het die verrigtinge in Afrikaans gedoen en hul regte aan hulle verduidelik. Die Steyns, albei in swart truie, se hande was agter hul rug en hulle het geknik om aan te dui hulle verstaan wat sy sê.

Die 18-jarige Marcelle is die jongste van die beskuldiges.

Lees ook: Krugersdorp-moorde: Nog twee verdagtes vasgetrek

Saak uitgestel

Die tienermeisie, met ’n groot bril en haar kort hare in ’n poniestertjie aan die kant van haar kop vasgemaak, het selfversekerd gelyk toe sy die landdros toespreek. Sy en haar broer het aangedui dat hulle die dienste van ’n regshulpprokureur wil gebruik.

Victor da Silva van Legal Aid SA, wat reeds vir Christiaan verteenwoordig, het aangedui dat hy die twee ook sou verteenwoordig.

Lees ook: Groot deurbraak in Krugersdorp-moorde

Die saak is tot 30 Junie uitgestel wanneer die vier na verwagting om borgtog sal aansoek doen.

Die beskuldiges mag nie afgeneem word totdat hulle nie deur ’n uitkenningsparade was nie.

 Gemeenskap geruk deur misdade

Christiaan, die eerste beskuldigde in die saak, het vanaf die hofselle by die trappe opgestap met ’n Afrikaanse Bybel in sy hande vasgeklem. Hy het tydens die verrigtinge die Bybel op die rand in die bank voor hom geplaas.

Hy en Fabian is vroeër vandeesmaand in verband met die misdade in hegtenis geneem.

Die drie moorde, wat verlede maand oor ’n tydperk van drie weke gepleeg is, het die gemeenskap geruk en mense laat vrees dat daar ’n reeksmoordenaar in die gebied is.

Een van die slagoffers was die eiendomsagent Hanle Lategan. Sy het verlede maand vermis geraak nadat sy kliënte sou ontmoet.

Die polisie het toe gesê sy het haar motor by die Krugersdorp-privaathhospitaal parkeer, wat naby die huis was waar sy die kliënte sou ontmoet.

Vermoor en beroof

Kringtelevisiemateriaal wys hoe twee mans haar nader.

Skoolkinders het op haar liggaam in ’n veld naby ’n stroompie afgekom. Die polisie het gesê daar was pogings om geld uit haar bankrekening te trek.

Anthony Scholefield, ’n versekeringsmakelaar, is twee weke tevore vermoor. Sy liggaam is in die kattebak van sy motor gevind, bedek met ’n swart sak. Hy is vermoedelik verwurg.

Nog ’n versekeringsmakelaar, Kevin McAlpine, is ook dood gevind in sy kattebak enkele dae nadat Anthony se liggaam gevind is.

Hy het ook planne gehad om voornemende kliënte te ontmoet. Kevin se liggaam is in ’n swart sak gevind.

Albei mans is van hul besittings beroof.

Bron: News24