Ntando, wat met hemimelie gebore is en daarom onderontwikkelde ledemate het, se bene is in 2012 geamputeer nadat hy sy lewe lank in 'n rolstoel was. Hy het dieselfde jaar 'n stel kunsbene met lemme gekry.

En gisteraand het dié 14-jarige silwer in die 200 meter wedloop vir mans gewen en boonop die Afrika-rekord verbeter met sy tyd van 23.77!
Na Ntando sy kunsbene gekry het, moes hy weer leer loop. "Dit het my sowat 'n week geneem en binne twee weke kon ek hardloop. Dit het lekker gevoel en ek kon weer sokker saam met my vriende speel. Dit was fantasties!" het die boorling van Mpumalanga vroeër aan die Sunday Times gesê.

Hoewel hy glo eintlik die 400 meter wedloop verkies, het Ntando gou bewys hy is ewe vaardig in die 200 meter. "Ek het geweet as ek eers my ritme kry, sal ek reg wees," het hy aan IOL.com gesê ná sy skitterende vertoning gisteraand. "Ek het vermoed ek kan goed doen, al is dit nie my voorkeurafstand nie."

Suid-Afrika se medaljetelling staan tans op ses en ons uitblinkers tot dusver is:

Goud:

Charl du Toit - Mans 100 meter naelloop.

Hilton Langenhoven - Mans hoogspring.

Kevin Paul - Mans 100 meter borsslag.

Silwer:

Ntando Mahlangu - Mans 200 meter naelloop.

Ilse Hayes - Vroue 100 meter naelloop.

Brons:

Fanie van der Merwe - Mans 100 meter naelloop.

Bykomende bronne: Sunday Times, IOL.com, http://www.jumpingkids.org.za/