In die Storm-huis in Fourways, Johannesburg, is daar g’n taboe nie. As jy lus het, mag jy maar met viltpenne of vetkryte op die pienk sitkamerbanke skryf, die musiek kliphard oopdraai en hardop saamsing. Sommer net omdat jy wil.

Dis hier waar Christina Storm (36) self haar kreatiwiteit vrye teuels gee, waar sy en die sesjarige Ruby mekaar se gesigte met grimering beverf, koek bak en dans en sing tot hulle uitasem is.

Hulle het onlangs saam die kombuis- en stoeptafels met vrolike patrone versier. En oral in die huis hang skilderye wat Christina self met enigiets van naellak tot haar eie bloed geverf het.

Hoor jy hierdie laaste besonderheid, voel dit vir jou amper asof die aktrise se nuutste rol, as die bloeddorstige vampier Lisa in Eternity, Suid-Afrika se eerste vampierfliek, spesiaal vir haar geskryf is.

Lisa se vampierkêrel raak verlief op ’n regte mensmeisie. Dit laat Lisa se slagtande jeuk, en die bloed begin behoorlik vloei.

Christina het naam gemaak as model, maar in 2008 het alles verander toe sy Bienkie in Egoli word.

“Ek het by ’n akteursagentskap aangesluit en hulle het vir my ’n oudisie gekry vir ’n rol wat twee dae sou duur, maar toe bel die sepie se mense my twee maande later om Bienkie te speel,” vertel sy. En toe sy weer haar oë uitvee, is sy ’n gesogte aktrise.

Moenie die Huisgenoot van 13 Januarie 2011 misloop vir pragfoto's van Christina en Ruby nie.