DIE dubbelverdieping-herehuis in die Toskaanse styl is nog nie eens klaar nie, maar dit getuig klaar van groot weelde.

Die man wat sy droomhuis hier laat bou, huiwer duidelik nie om groot geld daaraan te bestee nie.

‘‘Bloedgeld,’’ word daar gefluister noudat Dawie Groenewald (42), eienaar van hierdie indrukwekkende nuwe huis in Polokwane, daarvan beskuldig word dat hy ’n grootbaas in Suid-Afrika se grootste renosterstroopsindikaat is.

Sy bure in die stil voorstad Laborie kan net gis of hy kontant vir daardie rykmanswoning betaal. Dit vorm ’n skrille kontras met van die ander nederiger huise in hierdie gegoede, omheinde buurt.

Maar een ding is gewis: Die Groenewalds se nuwe huis – ’n klipgooi van hul bestaande woning – is ’n onwelkome toevoeging tot die buurt.

Vandat die skandaal om Dawie en sy vrou, Sariette, se koppe losgebars het oor hul vermeende betrokkenheid by die renosterstroopsaak, is die media op hul spoor en baie ontstoke Suid-Afrikaners eis hul bloed.

Ook by die plaaslike inwoners is hulle glad nie gewild nie sedert hulle verlede maand saam met nog 11 mense in hegtenis geneem en later op borgtog vrygelaat is.

Maar dit lyk of die man wat glo die meesterbrein agter die slagting van tallose renosters in Musina en Polokwane was, al tevore nie altyd ’n reguit paadjie geloop het nie, het Huisgenoot vasgestel.

Sy beweerde betrokkenheid by die internasionale renosterstroopsindikaat het skokgolwe deur die klein boerderygemeenskap van Musina en sy tuisstad, Polokwane, gestuur.

Maar nie almal wat hom ken, was verbaas oor die nuus van sy inhegtenisneming nie.

Dawie, ’n oudpolisieman en eienaar van Out of Africa Adventure Safaris, het na bewering buitelandse sakemanne van Asië – waar renosterhorings in groot aanvraag is – met renosterstropery gehelp. Tydens ’n polisieklopjag op sy plaas, Pragtig, in Musina is die karkasse van 20 renosters gevind.

Hy is vroeër vandeesmaand in Polokwane op borgtog van R1 miljoen vrygelaat terwyl die saak verder ondersoek word. Dawie, wat in die jagbedryf werk, het sedertdien ontken hy is by renosterstropery betrokke.

Maar sy verlede is net so raaiselagtig as sy vermeende betrokkenheid by renosterstropery, blyk dit.

Die man wat eers vrugte en groente agter uit sy bakkie verkoop het en vandag ’n helikopter van miljoene rande besit, se pad na sukses is bestrooi met skandale en bewerings van bedrog en lees soos ’n Hollywood-draaiboek, kompleet met gerugte oor ’n affair.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 28 September 2010