Die 25-jarige sanger is hospitaal toe geneem nadat ’n poets op ’n partytjie vroeër vandeesmaand skeefgeloop het, berig Daily Mirror.

Prinses Beatrice het grappenderwys die sanger James Blunt “tot ridder geslaan” by die Royal Lodge in Windsor, Londen, toe Ed beseer is. James was ook daar saam met sy vrou, Sofia Wellesley. Hy het geskerts dat hy graag tot ridder geslaan sou wou word. Beatrice het nie op haar laat wag nie. Sy het ’n seremoniële swaard gaan haal en toe James kniel, het Beatrice (28) die swaard oor haar skouer geswaai. Sy het ongelukkig nie besef Ed staan reg agter haar nie. Die swaard het Ed se wang getref en dit het begin bloei, berig Daily Mirror.

Ed is by ’n nabygeleë hospitaal behandel. Die litteteken op sy wang was ’n paar dae later nog sigbaar toe hy by die Shepherd’s Bush Empire-musiekvenue was. Beatrice was glo baie onsteld en ontroosbaar ná die voorval volgens ’n bron wat beweer Ed kon deur die swaard verblind gewees het.
Beatrice se ma, Sarah Ferguson, was ook by die partytjie. Verteenwoordigers vir albei partye het geweier om kommentaar te lewer. Ed is tans op ’n selfopgelegde blaaskans van die kollig nadat hy verlede jaar aangekondig het hy gaan reis, ’n ooroperasie ondergaan en dit rustig vat in 2016.

“Aan my familie en vriende, as julle my liefhet, sal julle verstaan dat ek my vir ’n rukkie gaan skaars maak,” het hy toe geskryf.

“Aan my aanhangers – my derde album is op pad en is die beste ding wat ek tot dusver gemaak het. Sien julle volgende herfs en dankie dat julle so wonderlik is.”

Cover Media