Nou gaan haar kinders moet leer om te luister.

[caption id="attachment_166306" align="aligncenter" width="600"]Foto: Verskaf Foto: Verskaf[/caption]

So sê Tanya Venter, wie se twee oudste kinders, Samantha (11) en Corban (9), se kogleêre inplantings môre by die Eduplex Oudiologie en Spraakterapie-departement in Queenswood, Pretoria, aangeskakel word.

Tanya, ’n onderwyseres aan die Prinshofskool vir Gesiggestremdes in Pretoria, en haar man, Johan, wat verbonde is aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie, is albei blind.

Hul jongste dogter, Micyla (2) kan sien en hoor.

Vir dié gesin was dit nogal ’n uitdaging om te kommunikeer, maar hulle het dit oor die jare onder die knie gekry. Van môre af gaan dit ’n nuwe begin vir die gesin wees, want vir die eerste keer “gaan almal in my gesin kan hoor”, sê Tanya.

Twee jaar lank het Tanya en Johan saam met die Stigting vir Kinders met Gehoorverlies die sowat R900 000 ingesamel wat nodig was dat Samantha en Corban kogleêre inplantings kon kry. Die inplantings het hulle op 6 Maart gekry.

“As gevolg van die feit dat albei kinders doof gebore is in albei oortjies en ook ’n genetiese oogsiekte in die familie het wat hulle moontlik in die toekoms kan blind maak, weet ons dat die kogleêre inplantings hierdie kinders se enigste kans op kommunikasie gaan wees in die toekoms,” sê Erika Basson van dié stigting.

“Omdat hulle al taamlik ouer is, is hul spraak ’n groot uitdaging en gaan intensiewe spraak-, taal- en luisterterapie vorentoe gevolg word.

“Die kogleêre inplantings gaan egter vir hulle die kans op gehoor gee – wat hul toekoms heeltemal anders en soveel meer wonderlik laat lyk, sodat hulle eendag self onafhanklik sal kan wees en met die samelewing sal kan kommunikeer.”

Oor môre is die Venters opgewonde, sê Tanya.

“Die kinders is so opgewonde. Hulle tel al die slapies van die dag dat hulle die inplantings gekry het,” sê Tanya.

“Corban het nou die dag vir my sussie, wat ook doof is en ’n kogleêre inplanting het, gevra of hy nie net vinnig ’n inplanting kan leen sodat hy gou kan hoor nie. Toe moes ons eers mooi verduidelik jy kan nie jou inplanting sommer net uitleen nie.”

[caption id="attachment_166307" align="aligncenter" width="580"]Foto: Verskaf Foto: Verskaf[/caption]

Volgens Tanya is aan hulle verduidelik dit kan oorweldigend wees die oomblik wanneer die inplantings aangeskakel word. Hulle ken nie klank nie en het immers nog nooit gehoor nie. Dit is ook moeilik vir Tanya om die kinders voor te berei omdat dit nie maklik is om die konsep van klank te verduidelik nie.

Om dié rede sal daar nie môre media toegelaat word wanneer die inplantings aangeskakel word nie. Tog sal Tanya en Johan daar wees vir die groot oomblik.

“Dit is ongelooflik. Dit gaan harde werk wees, want nou sal hulle moet leer om te luister.”