Ephodia is een van die matrieks wat Donderdagoggend tydens ’n spesiale ontbytgeleentheid vir uitblinkermatrieks in Midrand in Johannesburg vereer is. Sy is ’n top-presteerder in die afdeling vir gedeeltelik-siggestremde leerders by skole vir leerders met spesiale behoeftes.

"Ek is ongelooflik opgewonde. Ek het dit nie verwag nie," het die boorling van Phiphidi, ’n klein dorpie in Limpopo, gesê. Zacharia Nyathi en Hlulani Malungani, wat ook aan die Revoni Skool vir Blindes matrikuleer het, is ook vir hul prestasies vereer. Die minister vir basiese onderwys, Angie Motshekga, het by die geleentheid presteerders in hul onderskeie vakgebiede sowel as leerders wat ondanks uitdagend omstandighede presteer vir hul harde werk bedank. "Namens die matrieks van 2016, wil ons baie dankie sê aan al ons onderwysers, ouers, nie-regerings-organisasies, opvoedkundige navorsers, die korporatiewe wêreld en die res van die bevolking vir hul voortgesette ondersteuning van ons projek om gehalte basiese onderrig vir almal te bewerkstellig," het sy vroeër gesê toe sy die matriekuitslae vir 2016 bekendmaak.

Ephodia droom daarvan om ’n joernalis te word en erken haar matriekjaar was uitdagend.

"Dit was moeilik en ek het my bes gegee. Ek het my hart in my studies ingestoot. Ek het in die koshuis gebly en die skoolhoof het my werklik gemotiveer om te leer."

Sy beplan om ’n graad in mediastudies aan die Universiteit van Limpopo te voltooi.