KYK van naby en jy let dit dadelik op: Iets skort met Loudeen Dyers se linkeroog. Daar is ’n wit litteken aan sy iris en sy oog trek effens skeel.

Dié tiener sal nooit meer as 60 pesent sig in hierdie oog hê nie, maar dis eintlik ’n genade nadat dit maande lank heeltemal blind was. Tog, deur dié oog sal die wêreld altyd lyk asof hy dit deur ’n vuil vensterruit sien.

Dat ’n oënskynlik skadelose kontaklens soveel skade kan aanrig, sou die 17-jarige van Retreat in die Kaapse Skiereiland nooit kon droom nie. En die hartseerste is dat hy nie kontaklense nodig gehad het nie. Soos miljoene tieners wou hy net koel lyk – en toe betaal hy ’n baie duur prys.

Sy pa het die geld vir die lense twee jaar gelede vir hom vir Kersfees gegee. “Baie van my vriende dra gekleurde kontaklense en ek wou ook ligter oë hê,” vertel hy.

By die Clearvision-oogkundige in Wynberg het Loudeen vir hom ’n paar ligbruin lense teen R230 gekoop .

“Hulle het gesê ek moet my oë eers laat toets, maar ek het gesê daar’s niks fout met my oë nie. Toe sê hulle dis oukei, ek kan dit maar net koop.”

Hy het die lense ’n maand lank dan en wan gedra tot sy oog eendag kwaai begin jeuk het. “Dit het later rooi geword en gepyn. ’n Dokter het oogdruppels voorgeskryf, maar dit het nie gehelp nie.”

Toe ’n spesialis hom uiteindelik ondersoek, moes hy hoor dis die kosmetiese kontaklense wat ’n infeksie veroorsaak het – so erg dat sy oog permanent beskadig is.

Hy was twee weke lank in die hospitaal. “Teen daardie tyd kon ek niks meer met my linkeroog sien nie, net lig en donker.”

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 22 Julie 2010

Bespreek vir Skouspel!