Daar word nie verniet gesê ’n hond is die mens se beste vriend nie. Gewoonlik is dit die mens wat sy vriend in sy laaste dae moet groet.

[caption id="attachment_149659" align="alignnone" width="602"]Beste vriende! Foto: Facebook Beste vriende! Foto: Facebook[/caption]

Maar die ongelooflike hartseer het Mollie, ’n bokserhond oorgekom toe sy haar beste vriend, Ryan Jessen (33) moes groet wat skielik dood is weens bloeding op die brein.

Daily Mail berig Ryan, wat in Kalifornië gewoon het het nog gedink hy het net ’n migraine. Die volgende oomblik is hy in die hospitaal opgeneem weens bloeding op die brein.

Op 30 November het die dokters Ryan se familie laat kom om hom te groet.

Michelle Jessen, Ryan se suster, het ’n video op haar Facebook-blad geplaas van Mollie wat vir Ryan groet.

Terwyl Ryan in sy hospitaalbed lê in ’n see van pype, word Mollie op die bed getel. Dan stert tussen die bene, ruik sy saggies aan hom voordat sy tussen Ryan se bene gaan lê.

“Die hospitaal het die dierbaarste ding vir ons gedoen en ons toegelaat om my broer se hond in te vat om totsiens te sê sodat sy kan verstaan waarom haar mens nie weer huis toe gaan kom nie,” skryf Michelle op Facebook.

“As jy my broer geken het, hy was regtig lief vir sy oulike hond.

“Moenie bekommerd wees oor die hond nie. Ons hou haar. Sy is deel van die familie.”

Michelle skryf verder dokters vermoed die bloeding op Ryan se brein is veroorsaak deur hoë bloeddruk “en daar is spekulasie dat sy gereelde gebruik van energiedrankies ‘n bydraende faktor was”.

Ryan was ’n orgaanskenker en op 1 Desember is sy hart geskenk vir ’n 17-jarige seun van Kalifornië. Dié seun verjaar op Kersdag.

“So hartseer as wat ons is dat ons Ryan verloor het, weet ons sy hart gaan soveel vreugde bring vir die familie van die ontvanger. Ek wens Ryan het geweet watter verskil sy hart vir ’n jong man gaan maak,” het Michelle op Facebook geskryf.

Die video van Mollie wat Ryan groet, is al meer as nege miljoen keer gesien en meer as 80 000 keer gedeel.

Bronne: Daily Mail, Facebook