Ontmoet Ned.

Nee, Ned is geen gewone hond nie! Eerstens is hy ’n sjokoladekleurige skaaphond. Daarby is sy mense-ma die aktrise Pascal Pienaar, wat Karli in die kykNET-sepie Binnelanders speel.

En nes sy nooi, het hy ook ’n Instagram-profiel: Nedthecollie. Net soos sy ma gek is daaroor om foto’s op Instagram te plaas, is Ned glad nie skaam om gekiek te word nie. “Ned het al 350 volgers. Dit is meer as wat ek in my eerste twee jaar op Instagram gehad het,” vertel Pascal. Dié twee het vandag hul laaste dag by die see by Eersterivier in die Suid-Kaap geniet voor hulle môre die lang pad terug Gauteng toe aandurf.

Dan is dit vir Pascal terug werk toe.

Maar eers spog dié twee met ’n paar foto’s op Instagram. Pascal het sowat ’n jaar gelede besluit om ’n viervoetige vriend te kry, “want ek is baie lief vir diere en kan nie my lewe indink sonder ’n hond nie. “Ek wou ’n slim hond hê het wat klein genoeg is om in die motor saam met my te ry, wat saam met my gaan draf en saam met my in die water speel,” sê Pascal terwyl Ned rustig by haar voete lê. Met Ned, wat sy gekry het toe hy net vier en ’n half weke oud was, was dit liefde met die eerste oogopslag.

The day my mom gave me my first bottle milk. #blessed 26/02/2016

A photo posted by Ned (@nedthecollie) on

Die eerste rukkie moes sy hom nog met ’n bottel voer wat die band tussen hulle net sterker gemaak het. Op 1 Februarie vier Ned sy eerste verjaardag en sy ma het hom reeds ’n hoenderpastei belowe. “Hy het baie energie. Hy moet elke dag twee keer gaan stap,” vertel Pascal. “Daarby is hy baie spelerig. Elke oggend wanneer ek wakker word, dan lê sy tou, sy been, sy (speelgoed)hoender en die tennisbal in ’n ry. Dan moet daar gespeel word.”

I got a ducky toy. But Im done. #naptime #nedthecollie

A photo posted by Ned (@nedthecollie) on

Volgens Pascal is Ned baie erg oor sy mense. Dit is net vir mans wat hy so 'n bietjie grom.

“Hy is ’n bietjie kwaai met mans. Maar die meeste van die tyd is hy vreeslik liefdevol.

“Wanneer mense hom ontmoet, sê almal: 'Ek is mal oor jou hond!'”

Pascal het ’n paar maande gelede vir Ned sy eie Instagram-profiel geskep. Dit was by Bibi Slippers van In die Bed met Bibi-faam, ’n leesprogram op VIA, waar sy die eerste keer gehoor het van diere wat hul eie Instagram-profiel het.

Net daar het sy besluit Ned moet ook een kry.

“Ek sou mense mal gehad het as ek heeltyd op my profiel foto’s van my hond moes geplaas het,” sê Pascal. “Hy is net so blêrrie cute.” Nou kan jy sien hoe Ned oral saam met sy ma reis. Daar is foto’s van hom op die strand, in ’n tuin en selfs toe hy klein was by Stark-ateljees waar Binnelanders verfilm word.

Loooooong car trip

A photo posted by Ned (@nedthecollie) on