“Dit was ’n absolute ramp,” het Pascal (28) Woensdag aan Huisgenoot.com oor haar ontbering vertel nadat sy Sondag van die Porto-lughawe via Luanda na Kaapstad toe moes vlieg om weer Dinsdagoggend betyds in haar verpleegsterspakkie op die stel te wees in Randburg.

Maar Pascal moes kort voor haar vlug hoor die lugredery Taag Angola, by wie sy reeds in Desember haar vlug bespreek het, vlieg sedert die begin van die jaar nie meer op Sondae nie.

Die eerste beskikbare vlug sou eers die Dinsdag of Saterdag wees en teen daardie tyd het sy die res van haar vlugte ook reeds verpas.

Pascal vertel sy het in November 2016 ’n ongelooflike aanbod raakgesien en dadelik haar vakansie begin beplan. Haar vriendin Cindy Hawley (31), ’n onderwyseres, het in Maart besluit om by haar aan te sluit wanneer sy met vakansie gaan toe sy ook op ’n spesiale aanbod van Taag Angola Airlines afkom.

Well hi Porto. I like you. #porto #travelportugal

A post shared by ? Pascal Pienaar (@pascalie) on

Pascal se kaartjie sou wees om van Kaapstad na Porto te vlieg, en Cindy van Johannesburg na Porto. ’n Week lank het die vriendinne saam die stad in Noordwes-Portugal se besienswaardighede geniet en die sonsondergange ingedrink.

Sondag was dit tyd dat Pascal terugkeer na die werklikheid. Vanweë die skoolvakansie sou Cindy eers later huiswaarts keer. Dit het Pascal egter soos koue water getref toe sy besef daar is skielik nie meer ’n vlug vir haar nie.

“Ek was verslae; was ek nou onnosel of wat? Het ék nou ’n fout gemaak?” het ’n steeds baie moeë Pascal Woensdag aan Huisgenoot.com vertel oor hoe sy weer en weer gekyk het of haar vliegkaartjie reg is en sy nie dalk ’n e-pos misgekyk het wat die verandering aangedui het.

Pascal het vergeefs by Taag probeer uitvind wat haar te doen staan.

“Daar was nie ’n enkele toonbank vir hulle oop nie. Hulle kliëntediens bestaan nie. Ek het teen ’n pilaar op die grond gaan sit en ’n bietjie getjank daaroor,” sê sy.

Pascal het haarself bymekaargetrek en geweet sy gaan nou duisende rande moet opdok om by die huis te kom.

“Goedkoop koop kan baie vinnig duur koop raak.”

“Ek is eers terug na die backpackers om net ’n paar uur op hul bank te slaap. Ek het die volgende oggend per trein na Lissabon gereis. Die goedkoopste was om van daar via Doebai terug Johannesburg toe te vlieg.”

Dit was gelukkig net nodig vir die produksiespan om een toneel om te ruil toe sy die Dinsdagoggend uitasem by die werk opdaag.

Pascal wil egter mense waarsku teen die lugredery as hulle ooit moeilikheid sou hê.

“Goedkoop koop kan baie vinnig duur koop raak.”

Teen Donderdag kon niemand nog vir haar sê wat haar te doen staan en of sy haar geld sou terugkry en of Taag vir al die onverwagte uitgawes sou opdok nie.

Pascal oorweeg dit om haar tot die hof vir kleineise te wend as sy nie binne ’n week terugvoer kry nie.

Huisgenoot het Woensdag reeds by Taag se kantoor in Bedfordview navraag gedoen oor hoekom niemand Pascal van die verandering in hul rooster sou inlig nie en by wie ’n mens navraag moet doen of haar uitgawes verhaal kan word.

Sandra Borges, die operateur wat die telefoon na herhaaldelike probeerslae geantwoord het, het gesê sover haar kennis strek, moes Taag se kantoor in Luanda, wat hul skedule verander het, Pascal ingelig het. Sy het die navrae toe na ’n kollega, Tereza Sorreno, verwys.

Huisgenoot het weer Donderdag opgevolg, maar het teen Vrydag nog geen terugvoer ontvang nie.