Maar toe Pietie Beyers in die regte lewe siek word, het hy eers nie besef hoe ernstig sy toestand is nie. Hy het hepatitis A opgedoen, wat in sy geval deur besmette kos oorgedra is.

[caption id="attachment_142038" align="alignnone" width="600"]Pietie in die hospitaal. Foto: Verskaf Pietie in die hospitaal. Foto: Verskaf[/caption]

“Ek het niks van die infeksie geweet nie, maar toe die internis mooi verduidelik hoe intens my toestand is, het ons die erns van die saak besef. Hepatitis A is so ’n lukrake en skaars ding; dis nie iets waarvan jy gereeld hoor nie,” vertel die akteur.

Pietie was vroeg in September besig om tonele te skiet toe hy tussen die verfilming deur in ’n koue sweet uitslaan en duiselig voel.

Die aand by die huis het hy “spierpyn ervaar, ek was kort van asem en ek het min energie gehad. Ek het op Google probeer kyk wat fout kan wees, gedink dis net ’n gewone griep en my toestand daarvolgens behandel.”

Die volgende dag is hy terug werk toe, en ook die dag daarna. Hy het ál slegter begin voel en sy kollegas het hom aangeraai om dokter toe te gaan. “Almal was baie ondersteunend, maar dit het letterlik gevoel of ek nie energie het om by ’n dokter uit te kom nie. Ek het steeds nie gedink dis so ernstig nie.”

Toe die naweek aanbreek, het hy die dae omgeslaap. Teen Sondagaand 18 September het hy so sleg gevoel, hy het ineengesak toe hy probeer opstaan.

“Ek was naar en kon nie regop staan nie. Dit het begin voel of ek in ’n dwaling is en ek het besef iets is werklik fout.

“My broer, suster, ma, meisie, pa en almal het gesê as ek so sleg voel, moet ek eerder reguit hospitaal toe gaan; gesondheid kom eerste.”

[caption id="attachment_142039" align="alignnone" width="600"]Pietie voel al bietjie beter in die hospitaal. Foto: Verskaf Pietie voel al bietjie beter in die hospitaal. Foto: Verskaf[/caption]

Op pad hospitaal toe “het ek heeltyd net gedink hoe graag ek die volgende dag ’n storielyn by die werk wou vefilm”, lag Pietie. “Ek wou net so graag by die werk wees. Ek het ’n groot dag gehad en wou dit domineer.”

By die hospitaal het die dokter ’n ondersoek gedoen en die hepatitis A-infeksie is by hom gediagnoseer.

Lees ook: Ontmoet vir Pietie Beyers

“Die enigste ding wat ek bly vra het, is of ek die volgende dag werk toe kan gaan; ek wou so graag werk toe gaan,” onthou Pietie.

Die dokter se antwoord was ’n besliste nee. “Ek was 12 dae lank op ’n drup en moes vyf soorte medisyne neem.”

Die dokter het verduidelik hy kon die virus enige plek opgedoen het. “Dit moes oorgedra word van iemand wat dit het en vir my kos bedien het,” verduidelik Pietie.

“Hepatitis A is baie skaars,” stel hy mense gerus. “My dokter het gesê dit kom amper in epidemies voor. Hulle sien soms maande lank nie pasiënte daarmee nie en dan het heelwat mense dit skielik gelyk, asof ’n pluksel appels of ’n vrag hoenders daarmee besmet was.”

Pietie het werklik die erns van sy toestand besef toe die dokter hom vertel ’n pasiënt is al dood as gevolg van die virus.

Vir hom was daar tog lig aan die einde van die donker tonnel.

“Jy delf nogal diep in jou kop as jy 12 dae lank so afgesonder is en net stil in die bed moet lê. Jy gaan na elke hoek en draai in jou psige. Dit het in my geval nogal goeie, terapeutiese gevolge gehad om afgesluit te wees van my gewone leefstyl en  noodgedwonge oor die lewe te dink. Ek het vars perspektief op sekere goed in my lewe gekry en nuwe idees oor wat my aanslag op sekere goed in die lewe moet wees.

[caption id="attachment_142040" align="alignnone" width="600"]Dinge gaan goed met Pietie. Foto: Verskaf Dinge gaan goed met Pietie. Foto: Verskaf[/caption]

“Wanneer jy langs mense in die hospitaal lê wat ’n siekte soos kanker het, besef ’n mens gesondheid is definitief die belangrikste ding wat ons almal het.

“Hoe sieker ek gevoel het, hoe dankbaarder het ek geword vir die goeie goed in my lewe en vir die tye dat ek wel gesond is en vir die wete dat ek gesond kan word.”

Pietie vertel Binnelanders was deurlopend baie ondersteunend en “almal wou net hê ek moes gesond word.

“Ek het my kollegas gemis. Heelparty van hulle het vir my in die hospitaal kom besoek. Kim Cloete (Bronwyn) en Néna Butler (Wilmien) het kom kuier, Reynardt Hugo (dr. Tertius Jonker) het my baie gebel . . .

Dit was nogal snaaks hoe ek in die hospitaal gelê het terwyl al hierdie mense wat dokters en verpleegsters speel my bel en by my kom kuier. Eendag was ek nog half aan die slaap toe ek my oë effens oopmaak en daar staan Hykie Berg (dr. Conrad Bester).

Hy het vir ’n uur by my kom kuier en net lekker gesels. Dit was fantasties. Ek het nie eens geweet hy gaan kom kuier nie en toe kom al die verpleegsters opgewonde daaraan. Hulle het hom natuurlik herken het van Egoli, Survivor en Binnelanders.”

Pietie sê sy meisie, Anneke Weidemann, wat bekend is vir haar rol as Hanna in die Die Ongelooflike Avnoture van Hanna Hoekom en Jane in Die Wonderwerker, is tans ’n finalejaar mediese student aan die Universiteit Stellenbosch.

Lees ook: 7de Laan dalk van Maandag nie meer op die lug nie

“Van haar kant af het ek girlfriend comfort en lekker mediese leiding gekry.”

Hy het op Maandag 10 Oktober weer by die werk ingeval en voel vandag stukke beter.

[caption id="attachment_142041" align="alignnone" width="600"]Dit gaan goed met Pietie. Foto: Verskaf Dit gaan goed met Pietie. Foto: Verskaf[/caption]

“Ek moet dit nog rustig vat. Ek moet ’n spesifieke dieet volg. Ek kan nie rooivleis, sout, koffie, olie en romerige of vetterige kosse eet nie. Ek is gek oor sport en kan stadig maar seker weer begin oefen. Ek het vandeesweek vir die eerste keer weer gaan roei,” vertel Pietie opgewonde.

Op dae dat hy nie so vroeg op die stel hoef te wees nie, roei hy graag op ’n dam naby sy huis.

Binnelanders skiet nou die storielyn waaroor Pietie so opgewonde was voor hy in die hospitaal opgeneem is. Die dramatiese gebeure word later vanjaar uitgesaai.

“Dinge met my karakter raak  van so middel November tot Kersfees wild,” waarsku Pietie. “Deon gaan deur wille waters swem en interessante en lekker intriges wag op hom. Daar gaan op alle vlakke curveballs na hom gegooi word.”

Pietie vertel hy voel vandag wel geestelik sterker, “en ek is besig om fisiek ook sterker te voel. So dinge lyk helder.”

Hy beskryf die afgelope maand as “ ’n unieke en aaklige maar manier verhelderende ervaring”.