’n Nuwe verslag toon Osama bin Laden is eenkeer vir ’n spoedoortreding afgetrek toe hy voortvlugtig was.

Die Al-Kaïda-stigter en baasbrein van die noodlottige 9/11-terreuraanvalle in Amerika in 2001 het saam met twee kamerade in Pakistan gereis toe ’n polisieman hul voertuig vir ’n spoedoortreding aftrek. Dit was terwyl hy van 2002 tot 2003 in die omgewing van die Swat-vallei gebly het.

Die saak is glo “vinnig geskik” en Bin Laden, wat agt of nege jaar later deur Amerikaanse seesoldate doodgeskiet is, het weer in die pad geval.

Hierdie merkwaardige onthulling kom uit Pakistan se amptelike ondersoek, wat deur Al Jazeera bekom is, oor hoe Bin Laden dit reggekry het om amper ’n dekade ongesiens in die land te woon.

Dit is onbekend of die polisieman wat die motor afgetrek het bin Laden bloot nie herken het nie of omgekoop is.