Volgens dokumente wat Donderdag in Los Angeles ingedien is, wil Tish toesig hê oor hul enigste minderjarige dogter, Noah (13). Die rede vir die egskeiding is “onversoenbare verskille”.

Volgens TMZ.com wil Tish (46) hê Billy Ray moet haar regskoste dek en onderhoud betaal.

Billy Ray (51) het nog nie amptelik hierop kommentaar gelewer nie en Miley (20) kan blykbaar ook nie haar pa in die hande kry nie. In ’n Twitter-boodskap wat sy Donderdag uitgestuur het, skryf sy “@BillyRayCyrus aangesien jou foon en e-pos nie werk nie, sal ons maar so moet gesels?”

Die nuutste verwikkeling kom slegs drie jaar nadat Billy Ray ’n egskeiding gevra het, blykbaar as gevolg van Miley se hoofrol in Hannah Montana. Hy het later die saak laat vaar om eerder sy huwelik te probeer red.

In Maart 2011 het hy dit bevestig: “Ek het die egskeiding laat vaar. Ek wil my gesin weer heel hê. Dinge is beter as ooit.”

Billy Ray en Tish het drie kinders saam, Miley, Noah en Braison (18). Hy het ook Tish se kinders uit ’n vorige verhouding, Trace (25) en Brandi (23), aangeneem.

Hy het ook ’n seun, Cody (20), uit sy verhouding met Kristin Luckey. Sy het Cody in Suid-Carolina grootgemaak.