Billy Ray Cyrus het gerugte dat sy dogter Miley Cyrus met die akteur Liam Hemsworth getroud is, afgemaak as onwaar.

Die bespiegelinge het begin nadat hy ’n foto van die sangeres in ’n wit rok op sy sosiale media gelaai het. Die country-sanger het Donderdagaand ’n naby foto op Twitter plaas van sy kamera wat aan ’n driepoot geheg is. Op die kameraskerm was Miley sigbaar in ’n wit sigeunerrok – sy glimlag met toe oë terwyl sy in die son baai. By die foto het Billy geskryf: “Ek is baie gelukkig . . . jy is gelukkig @MileyCyrus”.

Honderde aanhangers het die kommentaar beskou as ’n bevestiging dat Miley en Liam tydens ’n geheime plegtigheid afgehaak het, maar Billy het die saak Sondagaand op sy Instagram-blad opgeklaar.

Billy het dieselfde foto van Miley gedeel en daarby geskryf: “Sjoe! Moenie sake vooruitloop nie. Was by die werk #StillTheKing. Bly om te sien so baie is lief vir @MileyCyrus net soos ek #happy."

Billy se eerste hutsteken was ’n verwysing na sy reeks Still The King op CMT (Country Music Television), waarvan die tweede seisoen nou verfilm word.

Miley (24) het die Australiese akteur op die stel van die 2010-rolprent The Last Song ontmoet. Hulle het in 2012 verloof geraak, maar hul verhouding in 2013 verbreek.

Aan die begin van 2016 het gerugte ontstaan dat hulle weer saam is. En in Oktober verlede jaar het Miley eindelik erken hulle is weer verloof op The Ellen DeGeneres Show. Daar het sy ook verklap sy dra haar goue diamantring net omdat dit Liam (27) gelukkig maak.

Gerugte van ’n troue het verlede jaar begin loop toe voorgestel is hulle trou in Liam se geboorteland, Australië. Maar meer onlangs is bespiegel hulle hou dalk later vanjaar ’n Hindoe-troue in die Himalajas.

© Cover Media