Die Microsoft-koning, Bill Gates, het die belangrikste les oor vriendskap geleer by sy beste pel, die sakeman Warren Buffett.

Bill en Warren is al 25 jaar lank vriende. Bill sê hy het geleer vriendskap gaan daaroor om die soort vriend te wees wat jy wens jy self gehad het.

Die Amerikaanse sakeman het vandeesweek in ’n blog uitgewei oor sy vriendskap met die 85-jarige Warren omdat hulle mekaar presies 25 jaar gelede ontmoet het.

Boonop skryf Bill dat hy aanvanklik nie eintlik daarin belanggestel het om Warren te ontmoet nie.

“In 1991, toe my ma my bel om te vra dat ek na ons vakansiehuis in Hood Canal gaan om ’n groep vriende, onder wie Warren, te ontmoet, wou ek nie gaan nie. Ek het vir haar gesê ek is te besig by die werk,” skryf Bill op sy blog.

Sy ma het daarop aangedring en Bill sê dit was eindelik Warren se interessante vrae oor Microsoft wat gemaak het dat hulle ure aaneen geklets het.

“Hy het op ’n nederige manier oor sy werk gepraat. Hy was snaaks, maar wat my die meeste beïndruk het, was hoe helder hy oor die wêreld gedink het. Dit was ’n diep vriendskap sedert ons eerste gesprek.”

Bill deel in sy blog kort staaltjies van hul vriendskap met die jare en sê Warren hou daarvan om soos ’n sesjarige te eet – hamburgers, roomys, Coke en soms sommer ’n pak Oreo-koekies vir ontbyt.

Hy sê Warren gaan haal hom steeds elke keer self by die lughawe wanneer hy Omaha besoek in die Amerikaanse deelstaat Nebraska, waar Warren woon.

Volgens Bill gesels hulle oor alles, van die politiek en wêreldgebeure tot innoverende idees. En wanneer hy en sy vrou, Melinda, nie weet wat om te doen nie, vra hulle: “Wat sou Warren doen?”