Dit volg op aantygings dat die geliefde Amerikaanse ster oor die jare verskeie vroue aangerand het.

Bill het Saterdag opslae gemaak toe hy tydens ’n radio-onderhoud kopskuddend weier om te reageer op aantygings van verkragting en seksuele mishandeling. In ’n verklaring op sy webtuiste het die prokureur John P. Schmitt gesê Bill sou nie reageer op die reeks aantygings teen hom nie. “Oor die afgelope paar weke het dekade oue, onwaar aantygings teen mnr. Cosby weer kop uitgesteek,” het die verklaring gelui.

'Die feit dat dit herhaal word, beteken nie dit is waar nie.'

“Die feit dat dit herhaal word, beteken nie dit is waar nie. Mnr. Cosby is nie van plan om enigsins hierop te reageer nie.

“Hy wil graag al sy aanhangers vir hul ondersteuning bedank en hulle verseker dat hy nou op 77 sy beste werk lewer. Nie mnr. Cosby of enige van sy verteenwoordigers sal weer kommentaar lewer nie.”

Bill is bekend vir sy rol as ’n patriarg in die sitkom The Cosby Show tussen 1984 en 1992 en is midde-in ’n storm sedert die komediant Hannibal Buress hom verlede maand tydens ’n vertoning ’n verkragter genoem het.

’n Beplande verskyning op die Late Show with David Letterman is gekanselleer nadat die vermaaklikheidster deur ’n reeks aantygings in die gesig gestaar word.

Die Washington Post het verlede week ’n volledige uiteensetting van die aktrise Barbara Bowman gepubliseer oor Bill se beweerde mishandeling in 1985, toe sy ’n naïewe tiener was.

Barbara het daarop aangedring dat sy nooit geld van Bill gevra of gekry het nie. Sy het aangebied om in ’n siviele saak te getuig van ’n vrou wat Bill van seksuele misdrywe aangekla het. Die saak is in 2006 geskik.

Altesaam 13 vroue wat soortgelyke aantygings teen Bill gemaak het, het ook aangebied om te getuig, is daar berig. Die reklamebeampte en voormalige aktrise Joan Tarshis het Sondag ook bewerings teen Bill gemaak. Sy het in ’n Hollywood Elsewhere-rubriek geskryf dat Bill haar in 1969, toe sy 19 was en met hom gewerk het, twee keer verkrag het. “Hy het my een dag gevra om ná die dag se skietwerk agter te bly,” het sy geskryf. “Ek het so gevlei gevoel en het gedink dit sal my loopbaan bevorder. Ons was in sy buitehuisie en hy het vir my ’n skemerkelkie gemaak.

'Die volgende oomblik was ek halfkaal op sy rusbank.'

“Die volgende oomblik was ek halfkaal op sy rusbank.”

“Deur die waas het ek gedink dit sou slim wees om te sê ek het ’n infeksie en hy sal dit opdoen, dan sal sy vrou weet hy het met iemand seks gehad.

“Maar hy het net ’n ander opening gevind om te gebruik. Ek was gewalg oor wat met my gebeur en geskok dat hierdie man, wat ek verafgod het, my nou verkrag. Natuurlik het ek niemand daarvan vertel nie.”