Chloe Goins het na vore gekom en die 78-jarige komediant daarvan beskuldig dat hy haar in 2008 by ’n Playboy-partytjie seksueel aangerand het. Sy was toe slegs 18 jaar oud.

’n Woordvoerder van die distriksprokureur se kantoor het aan Variety bevestig dat die saak oorweeg word.

Goins, ’n beroepsmodel, beskuldig Cosby daarvan dat hy haar by die Playboy-affêre ’n drankie gegee het en dat sy bewusteloos geraak het nadat sy dit gedrink het. Volgens TMZ beweer sy toe sy wakker word, was Cosby “halfnaak met sy broek op sy enkels besig om haar tone te lek”.

Cosby se regsverteenwoordigers voer aan hy was nie eens ten tyde van die sogenaamde voorval by die Playboy-partytjie nie.

Die kantoor van die distriksprokureur in Los Angeles het besluit om ’n klag wat ’n ander vrou, Judith Hunt, gelê het nie vir verdere ondersoek te oorweeg nie. Sy beweer Cosby het haar in 1974, toe sy 15 jaar oud was, in die Playboy-herehuis verkrag. Regslui sê te veel tyd het sedertdien verloop en dat die wet nie nou meer vir vervolging voorsiening maak nie.

Sowat 50 vroue, onder wie die supermodelle Beverly Johnson en Janice Dicinson, beskuldig Cosby van seksuele aanranding, waarvan party beweerde voorvalle uit die 1960’s dateer.

’n Voormalige kelnerin, Sharno von Ert, het Woensdag saam met die modelle Pamela Abeyta en Lisa Christie verklaar dat die komediant hulle aangerand en geteister het.

Associated Press het hofdokumente van 10 jaar gelede wat in Julie vanjaar openbaar gemaak is, gekry waarin Cosby onder eed beken het hy het Quaaludes (hipnotiserende verdowingspille) aan ’n vrou gegee en daarna met haar gemeenskap gehad.

“Ek ontmoet Me (naam weerhou) in Las Vegas. Sy ontmoet my agter die skerms. Ek gee haar Quaaludes. Daarna het ons gemeenskap,” het hy glo verklaar.

Cosby en sy regsverteenwoordigers betwis steeds die egtheid van die bewerings.

© Cover Media