Die Amerikaanse komediant is sedert verlede jaar die middelpunt van ’n skandaal. Meer as 40 vroue beskuldig hom van seksuele aanranding, onder meer die model Janice Dickinson.

In hofdokumente van 10 jaar gelede wat The Associated Press nou bekom het, het Bill onder eed erken hy het Quaaludes vir ’n vrou gegee met wie hy toe seks gehad het.

“Ek ontmoet me. (naam verwyder) in Las Vegas. Sy ontmoet my agter die verhoog. Ek gee vir haar Quaaludes. Ons het seks,” het hy gesê.

Die betrokke vrou was toe 19, sê die tydskrif People, en was ’n masseuse by ’n gesondheidsklub in Las Vegas.

Volgens die regsdokumente het die komediant (77) sewe voorskrifte vir Quaaludes in die 1970’s gehad, wat hy tot in die 1980’s, 1990’s en die jaar 2000 gehou het.

Die saak is in 2006 vir ’n onbekende bedrag geskik.

Bill is nooit krimineel aangekla nie.

Joe Cammarata, wat die prokureur Tamara Green en twee ander vroue verteenwoordig wat aanvoer Bill het hulle bedwelm en seksueel aangerand, het oor die jongste verwikkeling gepraat.

“Dis ’n buitengewone wending van gebeure wat broodnodige openbare lig werp op mnr. Cosby se gedrag,” het hy aan People gesê en bygevoeg die verklarings “steun die slagoffers se bewerings teen hom”.

Die sterre het gou op die opgediepte hofdokumente gereageer en hulle tot Twitter gewend om hul gevoelens uit te druk.

“Dis ’n baie hartseer situasie. Kan ons nou almal opstaan en die slagoffers steun? Of sal die stilte voortduur?”, het Judd Apatow gevra.

“Oor Bill Cosby. Ongelukkig bied sy eie verklaring ’n bewys van verskriklike dade, wat al is wat ek ooit nodig gehad het om die bewerings te glo.

“Ek het gestaan by ’n man wat ek gerespekteer en liefgehad het. Ek was verkeerd. Dit maak seer!!! Wanneer jy dit alles regkry, holla (sic),” het die sangeres Jill Scott geskryf.

© Cover Media