Die akteur en komediant

Die Hollywood Reporter berig meer as 20 vroue het die afgelope paar maande na vore gekom en beweer die veteraankomediant en ster van die destydse TV-reeks The Bill Cosby Show het na bewering hul drankies gedokter en hulle seksueel aangerand.

Bill het die gehoor in Kanada verstom gelaat toe ’n vrou in die voorste ry tydens sy vertoning opstaan. Die koerant National Post berig toe hy haar vra waarheen sy gaan, het sy geantwoord dat sy ’n drankie gaan koop.

Die vrou het gevra of sy vir Bill, wat besig was met ’n vertoning in London, Ontario, ’n drankie kan saambring.

Die komediant het blykbaar na ’n bottel water op die verhoog gewys en geantwoord: “Ek het reeds een (’n drankie)” en toe bygevoeg: “Jy moet versigtig wees wat jy naby my drink.”

Die gehoor het blykbaar eers na hul asems gesnak, waarna applous gevolg het. Volgens Tweets uit die gehoor het een mens Bill uitgejou as ’n “verkragter”, waarop hy gevra het mense moet ophou skreeu. Die lid van die gehoor is glo later deur ’n veiligheidswag uit die vertoning begelei.