Die komediant Bill Cosby het Donderdag ’n vrou gedagvaar wat beweer hy het haar seksueel aangerand; hy beskuldig haar daarvan dat sy tot R2,8 miljoen van hom wou afpers.

Judy Huth (55) het Dinsdag in die hoërhof in Los Angeles ’n saak teen Bill aanhangig gemaak. Sy eis vir seksuele aanranding en die aandoen van emosionele leed ná ’n beweerde aanranding in die Playboy-herehuis in 1974.

Maar Bill se Hollywoodse prokureur, Marty Singer, het in dokumente gesê wat Donderdag ingehandig is dat Judy se prokureur hom op 25 November gebel het en sowat R1,1 miljoen gevra het in ruil vir die belofte dat hulle die geding sal laat vaar.

Dit volg op nuwe bewerings van seksuele misbruik teen Bill wat amper daagliks opduik, en Marty het op 26 November weer met Judy se prokureur, Marc Strecker, gepraat.

“Marc het toe geëis dat sy kliënt R2,8 miljoen ontvang in ruil daarvoor dat sy geen regstappe doen of met die media oor haar bewerings praat nie,” het Marty geskryf.

Boonop wou Bill se prokureur ’n sleuteldeel van Judy se wetlike eis ondermyn: Regtens Kaliforniese wet moet sy kan bewys dat sy eers binne die afgelope drie jaar bewus geword het van die beweerde seksuele misbruik.

“Al hoe ’n vermeende slagoffer van seksuele misbruik so ’n eis kan aanvoer, is om te beweer dat die sielkundige besering onderdruk is en net in die afgelope drie jaar aan die lig gekom het,” het hy geskryf.

Maar hy het gesê Judy het “amper 10 jaar gelede sonder sukses haar verhaal aan poniekoerante probeer verkoop. Dit weerspreek die bewering dat die eiser die grondslag vir haar eise in die afgelope drie jaar ontdek het.”

Sowat 20 vroue het die 77-jarige Emmy- en Golden Globe-bekroonde komediant aangekla weens seksuele mishandeling of selfs verkragting. Al die beweerde voorvalle het jare gelede plaasgevind.

Bill is wêreldbekend vir sy rol in The Cosby Show, wat die eerste keer in die 80’s en 90’s uitgesaai is.

Maar terwyl sy prokureur op sy agterpote is, het Bill Donderdag ’n nuwe terugslag beleef: die Amerikaanse vloot het die eretitel van onderoffisier herroep wat hulle in 2011 aan hom toegeken het.

“Die vloot doen hierdie stap omdat die bewerings teen mnr. Cosby baie ernstig is en indruis teen die vloot se kernwaardes: eer, moed en toewyding,” het die vloot in ’n verklaring gesê.

Intussen het Los Angeles se polisiehoof, Charlie Beck, gesê sy mag sal enige bewerings van seksuele mishandeling teen Bill ondersoek, ongeag van wanneer dit dateer.

Haar belofte volg kom een van die beweerde slagoffers se prokureurs Bill gevra het om afstand te doen van sy regte onder die wet van beperkings, wat hom beskerm teen regsgedinge oor dekades oue beweerde aanvalle.

“Ons wys nie mense van die hand omdat eise buite die statuut val nie,” het Charlie gesê.

“Enigeen wat met ’n klag, veral ’n seksuele bewering, sal gehelp word,” het hy gesê.

Die Los Angeles-polisiekantoor het “in hierdie stadium” nog nie enige aantygings teen Bill ontvang nie, het hy bygevoeg.

Woensdag het nog drie vroue Bill van seksuele aanranding verkla en hul prokureur het Bill uitgedaag om regsaksie onder die oë te sien.

Die prokureur Gloria Allred het Bill aangeraai om afstand te doen van sy regte onder die wet van beperkings, wat beperk hoe lank ná ’n voorval ’n saak aanhangig gemaak kan word.

Sy het ook voorgestel dat Bill ’n fonds van R1,1 biljoen vir sy vermeende slagoffers oprig en ’n paneel afgetrede regters elke bewering se meriete bepaal.

- Michael Thurston