Bill Clinton het Eva Longoria in ’n roerende boodskap gelukgewens nadat sy onlangs haar meestersgraad in Chicano-studie behaal het en haar bedank omdat sy mense inspireer om nooit op te hou leer nie.

Die politikus het die voormalige ster van Desperate Housewives bedank omdat sy aanhangers inspireer ná haar gradeplegtigheid by die Kaliforniese staatsuniversiteit. Hy het sy bewondering vir die 38-jarige aktrise Vrydag op Twitter uitgespreek. “Dankie dat jy ander inspireer om nooit op te hou leer nie en vir jou ondersteuning van @ClintonGlobal. Baie geluk met jou graad.”

Die brunet het dit vinnig beantwoord met: “Dankie, mnr. die President.”

Eva, wat drie jaar aan haar meestersgraad gewerk het, het ook verskeie boodskappe van ondersteuning van haar vriende ontvang.

Haar voormalige medester Marcia Cross het getwiet: “Baie geluk met jou gradeplegtigheid! Van Cannes tot baret en toga. Jy is werklik ongelooflik. Xoxo M.”

Die aktrise het onlangs vertel sy sukkel om die spertyd vir haar tesis te haal. “Ek skryf nou my tesis. Ek hoop ek maak dit betyds klaar!” het sy laat hoor.

Sy het toe wel die spertyd gehaal en haar professore beïndruk. “Eva het drie jaar gelede by Northridge ingeskryf en kry haar meestersgraad in Chicano-studie en haar tesis gaan oor sukses wat spruit uit diversiteit: Die waarde van Latinas in die loopbaanrigtings wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde,” het haar woordvoerder gesê.