Indiese biljoenêrs gaan honderdduisende pond betaal sodat die Filharmoniese Orkes in November by prins Charles van Brittanje se verjaardagpartytjie kan wees.

Cyrus en Priya Vandrevala is besig om ’n groot konsert met die Filharmoniese Orkes te reël. Dit gaan die vermaak wees by die driegang-ete wat in November vir Charles se 65ste verjaardagviering in die Buckingham-paleis in Londen gehou word.

’n Woordvoerder vir die paleis het bevestig die partytjie sal op 21 November plaasvind, ’n week ná Charles se verjaardag op 14 November, maar wou nie daaroor kommentaar lewer nie omdat dit ’n privaat geleentheid is.

Die prins van Wallis, ’n beskermheer van die orkes, wat in Londen gesetel is, het self die musiek vir die uitvoering gekies uit die werke van die Duitse komponis Wagner.

Die Indiese egpaar, wat in die weelderige buurt Holland Park woon, is deur die Vandrevala-stigting by verskeie liefdadigheidsprojekte betrokke en is glo op goeie voet met Charles en sy vrou, Camilla (66).

’n Woordvoerder vir die Vandrevala-stigting is so in die Indiese Times-koerant aangehaal: “Die aand hou met hul liefdadigheidswerk verband aangesien die Filharmoniese Orkes deur sy trust minderbevoorregte musikante ondersteun.”