Die villa op die heuwel met ’n uitsig oor die Middellandse See is ruim, die meubels aan die skraps kant.

Al versierings is die rugby-aandenkings teen die muur van die woonvertrek – kosbaarhede van die sportster wat hier aan die suidkus van Frankryk kom nesskop het.

Onder die vele trofeë is ’n Oscar du Meilleur Joueur Êtranger du Top 14, die jaarlikse toekenning aan die beste buitelandse speler in Frankryk se Top 14-liga. Verlede jaar se wenner was toe niemand anders nie as ons eie Joe van Niekerk.

En die 30-jarige losvoorspeler wat vir die Stormers uitgedraf het voor hy hierheen gekom het, verdien dit dubbel en dwars. In die tyd dat hy RC Toulon se kaptein is, het hy wondere verrig met ’n klub wat eens op relegasie afgestuur het.

Rugbykenners is vol lof vir die Kapenaar wat die afgelope 18 maande in Carqueiranne, ’n kusdorpie buite Toulon, woon.

Hy is ’n inspirerende leier, sê hulle, en dis danksy sy aanvoering dat Toulon onlangs die eindstryd vir die gerekende Amlin-uitdaagbeker kon haal. Hulle het toe naelskraaps met 28-21 teen Engeland se Cardiff Blues verloor.

Maar vir die frisgeboude ster is daar geen groter rugby-eer as om vir sy land te speel nie – en eindelik is dit weer sy beurt wanneer hy in die Millenniumstadion in Cardiff uitdraf as lid van die Springbokke se begin-15 in die toets teen Wallis.

“Niks is lekkerder as om die Groen-en-Goud te dra nie,” sê hy met ’n glimlag.