Kaley Christine Cuoco (24) het bekendheid verwerf met haar rol as Bridget Hennessy in die sitkom 8 Simple Rules, maar haar jongste rol het van haar een van TV se nuutste lieflinge gemaak.

Op net 18 maande het sy al in TV-advertensies begin verskyn en vir ’n groot deel van haar jeugjare was Kaley aan die rondreis vir oudisies. In haar vrye tyd was sy meestal op die tennisbaan – sy het op drie al begin speel.

‘‘Toe ek die rol in 8 Simple Rules kry, moes ek kies, toe kies ek toneelspeel,’’ sê sy.

In 8 Simple Rules vertolk sy die rol van die ousus, al is Kaley eintlik ses jaar jonger as haar TV-suster, gespeel deur Amy Davidson.

En nou speel sy die plat op die aarde Penny wat by die Cheesecake Factory werk. Sy trek langs Sheldon (Jim Parsons) en Leonard (Johnny Galecki) in en droom daarvan om ’n beroemde aktrise te word.

‘‘Ek voel baie gelukkig dat ek dié rol kan speel,’’ sê Kaley. ‘‘Dis soveel pret. Hoe kan jy nie pret hê in ’n trefferreeks nie? Ek hou daarvan as ons almal saam in tonele is, want ons vyf geniet dit so om saam te werk.’’

Sy sê die reeks gaan oor meer as ‘‘ ’n oulike meisie wat langs twee bleeksiele woon’’. ‘‘Dis regte mense wat regte emosies ervaar. Akteurs soos Jim Parsons en Johnny Galecki se karakters het mense diep geraak en hulle is regtig dierbaar.’’

En die reeks se aanhangers wissel van kinders tot ouer mense. ‘‘Dis vreemd, want 10-jariges kom na my toe en sê hulle is dol daaroor, maar ook 80-jariges.

‘‘Mense wil altyd weet: ‘Wat gaan met Leonard en Penny gebeur? Hoekom kan Sheldon en Penny nie uitgaan nie?’ Dit laat my lekker lag. Dit sal op ’n nagmerrietoneel in seisoen nege uitloop, want hulle sal mekaar vermoor. Penny sal Sheldon vermoor!’’

Lees meer oor Kaley in Huisgenoot van 24 Desember. Rihanna is vandeesweek op ons radar en ons gee raad oor Kersgeskenke wat min kos in ons Hei Jy!-seksie.

Besoek CBS se webwerf vir meer oor Kaley Cuoco en Big Bang Theory