Al is die Protea-toetskaptein, Faf du Plessis, onlangs deur ’n moeilike tyd, is dit duidelik dat iemand agter hom gestaan het wat steeds onwrikbaar in hom glo.

Faf se vrou, Imari, het vanoggend hul derde huweliksherdenking in die sosiale media gevier en hul huwelik lyk sterker as ooit.

“Ek is lief daarvoor om deur die lewe te stap met my beste vriend. Om hierdie man van eer, integriteit en goedheid aan my sy te hê deur alles. Ek is so bly oor die ongelooflike lewe wat ons saam het en vir al die oomblikke wanneer dit net ons is,” skryf Imari.

Huisgenoot was destyds daar toe die pragtige Imari Faf behoorlik uitgeboul het op hul troudag.

Die Internasionale Krieketraad (IKR) het Faf Dinsdag aan balknoeiery skuldig bevind. Die raad het bevind hy het die oppervlak van ’n wedstrydbal met ’n mengsel van peperment en speeksel verander.

Kyk: Het Faf du Plessis die Aussies verkeerd opgevryf?

Hy is met 100% van sy wedstrydgeld beboet, maar sal darem weer Donderdag in die wedstryd teen Australië speel.

Faf was net so opgewonde om sy persoonlike mylpaal met sy volgelinge te deel en het ook ’n foto van hul troudag op Instagram gelaai.

“Gelukkige huweliksherdenking, my liefde. Drie jaar en ons tel nog aan. Die lewe is spesiaal met jou daarin. So dankbaar oor jou.”

Maar Faf en Imari koer nie net vir mekaar wanneer hulle hul huweliksherdenking vier nie.

Op sy verjaardag op 13 Julie het sy by ’n foto van hom geskryf: “Aan die man na wie ek opkyk, koester en wat altyd sy beste vir my gee – ek is sal jou altyd liefhê. Geluk met jou verjaardag. Ek dank God dat Hy vir my die beste man gegee het om deur die lewe te gaan. Jy is die grootste seëning in my lewe. Jy is die aantreklikste en die snaaksste. En net myne.

En op die Suid-Afrikaanse krieketprysuitdeling vroeër vanjaar het Faf tog te lekker met sy mooi vrou gespog: “Die vroutjie lyk vuurwarm vir die toekenningsnaweek. Standaard groen en goud vir my.”

A photo posted by Faf du plessis (@fafdup) on

Geluk, julle! Op nog baie gelukkige jare saam.