Angelina Jolie gaan glo binnekort ’n wêreldrekord-ooreenkoms van net onder R500 miljoen onderteken vir ’n boek oor haar lewe.

Verskeie uitgewers is in ’n stryd gewikkel om die regte te bekom vir die outobiografie van die 38-jarige ster, wat ses kinders – Maddox (12), Pax (9), Zahara (8), Shiloh (7) en die vyfjarige tweeling Knox en Vivienne –  saam met haar verloofde, die akteur Brad Pitt (49), grootmaak en in Februarie ’n dubbele mastektomie ondergaan het.

’n Bron by ’n Amerikaanse uitgewer het aan die Sondagkoerant Daily Star gesê: “Wie dit ook al kry, sal op ’n goudmyn sit. Haar boek is gewaarborg om in amper elke land ter wêreld op die topverkoperlys te wees en selfs so ’n groot voorskot sal binne weke verhaal word.”

’n Vriend van die Salt-aktrise het onthul Angelina dink die tyd is nou reg om haar lewensverhaal neer te pen en sê sy sal nie terughou nie.

Die bron het gesê: “Sy wou dit nog altyd gedoen het en sy meen die tyd is nou reg. Sy het nog nooit in haar lewe sulke vrede en vervulling ervaar nie.

“Daar is duiwels in haar verlede, maar sy is emosioneel en geestelik op ’n plek waar sy gemaklik genoeg voel om eerlik daaroor te skryf en dit in konteks te plaas. Geen onderwerp sal taboe wees nie, buiten dit wat haar kinders se privaatheid kan skend.”