Justin Bieber gaan nie aanspreeklik gehou word vir ’n tref-en-trap-ongeluk in Los Angeles waarin ’n fotograaf lig beseer is nie.

Die sanger (19) is ’n paar uur lank ondervra nadat ’n fotograaf op Maandagaand 17 Junie tussen die sanger se bewegende wit Ferrari en ’n geparkeerde motor vasgepen is.

’n Bron het aan die skinderwebtuiste TMZ.com gesê Justin het die Laugh Factory in Sunset-boulevard om ongeveer 23:45 saam met sy vriend Lil Twist (20) verlaat toe die ongeluk gebeur.

Die bron het volgehou Justin het vir die groep fotograwe beduie om uit die pad te beweeg nadat hy agter die stuurwiel van sy supermotor ingeskuif het, maar dit het gelyk of hy met die wegry een van hulle tussen sy motor en ’n geparkeerde voertuig vasgepen het.

Justin het nie stilgehou om te kyk of die fotograaf seergekry het nie en vir die polisie gesê hy het nie geweet hy het iemand getref nie.

Die polisie het bevind die Kanadese ster het nie ’n misdaad gepleeg nie en gesê die ongeluk was die fotograaf se eie skuld, want hy was in die pad.

Gelukkig vir Justin, want net verlede maand het die polisie onverwags by sy huis in Calabasas, Kalifornië, opgedaag nadat van sy bure gekla het hy jaag roekeloos in sy Ferrari rond.