Al het Justin Bieber (19) onlangs in ’n skoonmaker se emmer gepiepie, hardop gegil “f*k Bill Clinton” en gefuif in ’n nagklub vir mense 21 jaar en ouer, glo sy ma hy sal die regte besluite neem.

Pattie Mallette (38) glo ook nie haar seun is besig om die kluts kwyt te raak nie. Sy het vir E! News gesê: “Vir my is Justin nie ’n openbare figuur nie; hy is my seun. Ek kan nie voorspel wat als in die koerante sal wees nie. Justin was nog altyd iemand wat sy eie kop gevolg het en ek moet daarop kan staatmaak dat hy die regte besluite sal neem en bo sal uitkom.” Intussen is ’n goeie vriend van Justin, die rapper Lil Twist (20), vandeesweek in Kalifornië in hegtenis geneem omdat hy ongeveer 03:30 met Justin se motor rondgejaag het. Volgens ’n verteenwoordiger van Los Angeles se distriksbalju, Steve Whitmore, het Lil Twist teen tussen 60 en 70 mph gery (sowat 100 km/h) in ’n 30 mpu-konstruksiesone (sowat 50 km/h). Die sanger het boonop ook oor ’n rooi lig gejaag. Hy is afgetrek en ’n polisiebeampte het glo dagga geruik. Lil Twist is in hegtenis geneem omdat hy vermoedelik onder die invloed bestuur het.