Justin Bieber se ma is glo heeltyd bekommerd oor die popsanger.

Pattie Mallette het in ’n onlangse onderhoud vertel sy probeer Justin (19) ondersteun, maar vind dit moeilik om hom sy eie foute te laat maak. Sy het ook vertel sy besef hy is nou ’n grootmens en kan sy eie besluite neem, maar erken sy bel Justin nog elke dag.

Sy het aan die tydskrif People gesê: “Wanneer jou kinders ’n sekere ouderdom bereik, verander jou ouerskapstyl en dis moeilik om te laat gaan.

“Sy lewe was my lewe. Nou moes ek hom ’n bietjie laat gaan en hom onafhanklik laat wees. Dis moeilik om nie alles te kan beheer wat jou volwasse kind doen nie.”

Die 37-jarige skrywer hou nie daarvan om oor haar seun se onlangse swak gedrag uitgevra te word nie (hy het onder meer in ’n slopemmer gepiepie, “f** Bill Clinton” geskree en in Amerikaanse nagklubs gerinkink, al was hy met twee jaar minderjarig) omdat sy hom soveel moontlik wil ondersteun.

Sy het gesê: “Elke ouer is bekommerd. Ek bel hom elke dag en stuur elke dag vir hom ’n boodskap. Ek wil beslis alles weet wat hy doen en wat hy beleef, dus probeer ek met hom praat soveel hy my toelaat. Ek meen, hy is op toer en word in ’n miljoen verskillende rigtings getrek, maar ons praat so dikwels soos hy kan.

“Baie mense dink dalk ek weet nie wat my seun aanvang nie of hou my blind daarvoor. Ek weet wie my seun is. Ek stem nie altyd saam met elke dingetjie wat hy doen nie, maar ek hoef nie noodwendig met almal daaroor te praat nie. Hy is my seun en ek moet dit aanvaar dat hy nie sal wil hê dat ek ‘daardie ma wat oor sy gedrag praat’ moet wees nie.”