Die steelfotograaf Jose Osmin Hernandez beweer die sanger (19) het hom verlede jaar in Los Angeles aangerand toe hy en Selena Gomez (20) saam uit was. Justin en Selena het vroeër vanjaar ná twee jaar saam uitgemaak.

In hofdokumente wat die webwerf TMZ.com in die hande gekry het, beweer Jose Justin het gefrustreerd geraak met ’n klomp fotograwe wat hom en Selena afgeneem het. Hulle was by die inkopiesentrum The Commons in Calabasas en Justin wou met sy Mercedes uit die parkeerblok ry.

Jose beweer die Kanadese ster het toe uit die motor gespring en hom ’n “krygskuns-tipe skop in die ribbekas aan die linkerkant van sy maag” toegedien. Jose beweer verder Justin het hom toe met sy linkervuis aan die regterkant van sy gesig geslaan en hom teen ’n geparkeerde motor gestoot.

Jose sê ook Selena het ’n paar minute later teruggekeer na die toneel om na haar foon te soek en verskoning gevra vir Justin se gedrag. Jose het nie aangedui hoeveel skadevergoeding hy soek nie.