Volgens die Miami Herald gaan Justin skuld erken op ’n klag van roekelose bestuur en verset sonder geweld, maar die aanklag van onder die invloed bestuur sal laat vaar word.

Die Kanadese burger sal 12 uur se woedebeheerklasse opgelê word en hy sal toegelaat word om privaat klasse by te woon om te verhoed dat dit in ’n mediasirkus ontaard. Hy gaan ook beveel word om na video’s te kyk van mense wat geraak is in voorvalle waar daar onder die invloed bestuur is, hy sal hofboetes moet betaal en sowat R525 000 aan liefdadigheid moet skenk.

Regter Bill Atfield van die Miami-Dade-distrik sal oor die saak beslis. Justin gaan dit nie bywoon nie – sy prokureurs sal sy pleidooi lewer.

Die webtuiste TMZ het in Junie beweer Justin is op die punt om ’n ooreenkoms te bereik en het selfs van die woedebeheerklasse melding gemaak. Hulle het egter geskryf hy sou net op die klag roekelose bestuur skuld erken en niks anders nie, en ook gesinspeel daarop dat dit ’n rukkie geneem het om die ooreenkoms op te stel omdat die polisie wou hê Justin moes ’n openbare aankondig maak, maar hy wou nie.

Daar word beweer nadat Justin in Miami in hegtenis geneem is, het hy aan die polisie gesê hy het dagga gerook en voorskrifmedikasie, waarskynlik Xanax, geneem. Maar sy bloedalkoholvlak was onder die wettige limiet en in ’n video van hom wat by die stasie geneem is, lyk hy nie besope nie.

Dis die tweede saak wat die sanger die afgelope tyd moet uitklaar. Hy het verlede maand sonder om skuld te erken verantwoordelikheid aanvaar vir die skade wat hy na bewering aan ’n buurman in Kalifornië se huis aangerig het deur dit met eiers te gooi. Justin is ’n proeftydperk van twee jaar opgelê, moes woedebeheerklasse bywoon, gemeenskapsdiens doen en die buurman vergoed.

© Cover Media