’n Veiligheidswag en ’n bestuurder vir die popsanger Justin Bieber is naby Atlanta in hegtenis geneem en daarvan aangekla dat hulle ’n fotograaf se kamera gesteel het.

Steve Rose, die polisiekaptein in Sandy Springs, Georgia, het in ’n verklaring gesê Justin was Dinsdagaand in ’n vermaakkompleks noord van Georgia se hoofstad toe sy 32-jarige lyfwag, Hugo Hesny, met ’n fotograaf slaags geraak het. Volgens die wag het die fotograaf te na aan die sanger gekom.

Steve sê Hugo en die 49-jarige bestuurder, Terrance Johnson, het die fotograaf na ’n parkeerterrein gevolg en sy kamera afgevat. Hy het gesê die twee is aangekeer toe hulle by die huis aankom wat Justin in die gebied huur. Steve sê Justin was nie betrokke nie en die kamera is teruggekry. Dis onbekend of Hugo en Terrance se prokureurs teenwoordig was.