“Ons sê nie dit is so nie,” sê tromspeler Philip Erasmus van Die Heuwels Fantasties. “Maar ons sê dit stem geweldig baie ooreen.”

Die rockers voel so sterk daaroor dat hulle die gedeelte van die liedjies waaroor die dispuut gaan uit Bieber en will i. am. (sy regte naam is William James Adams) se liedjie That Power gevat het en dit teenoor hulle eie liedjie Way To Go op ’n YouTube video gevoeg het sodat mense dit met mekaar kan vergelyk.

Die video is binne twee dae 5 500 keer gekyk.

“Ons gaan nie regstappe doen nie, maar ons het gedink dit is ’n goeie idee om mense die geleentheid te gee om self te besluit,” sê Philip.

Volgens hom is dit heeltemal toelaatbaar wanneer kunstenaars idees van mekaar kry, maar moet daar die nodige erkenning gegee word. Die sangers van beide groepe was saam op Hartenbos toe hulle That Power die eerste keer gehoor het en was aanvanklik baie ontsteld. “Ons het gedink ons moet hom (Justin) hof toe sleep, maar het later besef dit is nie die moeite werd nie.”

Die liedjie is hoofsaaklik deur Thieves geskryf. Hulle bestaan uit Andrew Davenport (sanger en baskitaar), Fred den Hartog (hoofkitaarspeler) en Philip Erasmus (tromspeler). Die Heuwels Fantasties bestaan uit Pierre Greeff (hoofsanger), Hunter Kennedy (lirieke en baskitaar), asook Fred en Philip.

Pierre het die Afrikaanse vers in Way to Go geskryf wat in 2010 bekendgestel is. That Power is vroeër vanjaar bekendgestel.

Philip erken ruiterlik dat hy Justin se musiektalent bewonder, maar sal seker maak hy gee hom die nodige erkenning wanneer sy werk hom inspireer of as hy dit op die een of ander manier gebruik.

Marelize Potgieter

Kyk hier na die video: